Klaskamers, laboratorium vir Laerskool Tsumeb

Om in oorvol klaskamers lesse te ontvang is sedert 31 Julie iets van die verlede vir leerders van Laerskool Tsumeb.
Zoe Karsten
Die minister van onderwys, kuns en kultuur Anna Nghipondoka het einde Julie amptelik agt klaskamers, 'n laboratorium en 'n stoorkamer aan die Laerskool Tsumeb oorhandig.
Hierdie strukture is gebou met die ondersteuning van die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) en MTC se Rural Schools Project.
Die projek, wat in 2019 van stapel gestuur is, is daarop gemik om die regering te help om skole se leeromgewing te verbeter en om onderwysvlakke landswyd te standaardiseer. Skole met vervalle of 'n gebrek aan bestaande strukture word opgeknap en in die meeste gevalle word nuwe klaskamers gebou.
Volgens skoolhoof Petrina Shafewa huisves die skool 992 leerders en was daar te min klaskamers wat tot groot ongemak gelei het. "Boonop is dit nie ideaal vir goeie onderrig nie. Ons is dus dankbaar teenoor MTC en die MVAF wat ons met hierdie broodnodige infrastruktuur gehelp het.”
Nghipondoka het ook tydens die geleentheid die instansies bedank: “Die impak van hierdie skenking strek ver buite die mure van die Laerskool Tsumeb. Deur opvoedkundige infrastruktuur te verbeter, belê ons in die toekoms van Namibië om te verseker dat ons kinders die toerusting en die omgewing het wat nodig is om akademies en maatskaplik uit te blink. ”
In haar toespraak wat namens die MVAF se uitvoerende hoof Rosalia Hausiku gelewer is, het sy gesê die fonds is trots daarop om saam met MTC in 'n sinvolle projek soos hierdie te belê.
Benewens Laerskool Tsumeb, het MTC en die MVAF verder onderneem om klaskamers en stoorfasiliteite te bou by die Laerskool Zadan in die Kavango-Oosstreek wat nog vanjaar voltooi sal word.
MTC se Tim Ekandjo het 'n beroep op beide die private en openbare sektore gedoen om saam te werk om uitdagings in die onderwys- en behuisingsektor die hoof te bied en sodoende armoede aan te spreek. “Onderwys is almal se verantwoordelikheid en so ook 'n kwessie wat elke korporatiewe entiteit moet aanspreek."