KPS - uitstekende onderrig

Nicola Reyneke
Die Privaatskool Keetmanshoop (KPS) plaas hul leerders se akademiese behoeftes eerste deur hul vaksisteem meer aanpasbaar te maak. Vanaf unieke vakkeuses tot die opsie om sekere vakke vroeër af te handel, is KPS bereid om die ekstra myl vir leerlinge te stap.
In 2018 het KPS die vak Verbruikerstudies ingestel as vakkeuse. Tans is KPS die enigeste skool in Namibië wat hierdie vak bied. “Hierdie vak help leerders om ingeligte verbruikers te word en ontwikkel entrepreneursvaardighede wat help om verbruikers se behoeftes te identifiseer en op ’n kreatiewe manier op te los,” sê Juf Wilna Theron.
Afhangend van studente se belangstelling kan hierdie vak vele deure vir leerders open.
Vanweë groot belangstelling en die feit dat Keetmanshoop ’n landbou omgewing is, het KPS na hul leerders geluister en Landboubestuurspraktyk in 2024 bekendgestel. Dié vak bied aan leerders ’n algemene agtergrond oor landbou. Onderwerpe sluit in grondvoorbereiding, besproeiing en algemene behoeftes van plante tot rekordhouding en wetgewing.
“Dit gee aan die leerder ’n oorsig van alle aspekte van landbou en hulle doen baie prakteise ondervinding op deur self te plant, te saai en te oes. Ons werk ook prakties met diere,” het Juf Paula Gouws gesê.
Sy sê ook dat daar baie belangstelling in die vak is en dat leerlinge veral die praktiese deel geniet.
Laastens laat die ISC-stelsel leerders toe om hul finale eksamen in sekere vakke af te lê sodra hulle daarvoor gereed is. Die 2024 maktriekklas het byvoorbeeld reeds die Mei-eksamens gebruik om hul eindeksamen vir Afrikaans Primêre Taal en Engels Addisionele Taal af te lê.
Die leerders het besonder goed gevaar: Sewe kandidate het A-simbole in Engels behaal en een kandidaat het vir Afrikaans sowel as Engels ’n A-simbool behaal.
Die 2024 graad 11-klas gaan die November-eksamens gebruik om ook Afrikaans en Engels af te handel. Vier kandidate gaan Aktiewe Burgerskap (Lewensoriëntering) ook voltooi. Vir hierdie leerders is die akademiese druk in hulle matriekjaar dus veel minder.
Op die vraag aan Afrikaanse onderwyseres Juf Patrys Mostert of dit voordelig is vir leerders, antwoord sy: “Ja! Leerders is nie in die stresvolle situasie van ’n volledige eindeksamen nie, wat beteken hulle kan meer tyd en voorbereiding doen vir die enkele vakke wat hulle ‘afskryf’.”
Verder is hulle eindeksamenrooster nou onder minder druk wat bydra tot beter voorbereiding in die oorblywende vakke.
“As onderwyser wat al 20 jaar skoolgee, is ek opgewonde oor die nuwe moontlikhede van ISC,” verduidelik die skoolhoof, Juf Drienie Nolte. “Behalwe dat dit ’n internasionaal-erkende kwalifikasie is, berei dit leerlinge deeglik voor vir verdere naskoolse studies. Daar is vakke soos Rekenaarstudies, Verbruikerstudies, Ingenieursgrafika en Ontwerp en Toerisme waarin leerlinge ’n portefeulje saamstel. Dit berei die leerlinge vir die werksomgewing voor en die praktiese afdelings help veral vir leerlinge wat meer prakties aangelê is.”
Alle vakke is universiteitsvrystellingsvakke omdat dit op hoërgraad aangebied word. Dit help leerlinge om billiker toegang tot tersiêre instansies bekom.
KPS het hul leerders se beste belange op die hart en probeer om hul akademies op enige moontlike manier te help.