Melanie maak met haar kroon 'n verskil

Met die Mej. Gobabis Gimnasium-kroon op haar kop, maak Melanie van der Merwe 'n daadwerklike verskil in die lewens van kleuters van Epako.
Zoe Karsten
Mej. Gobabis Gimnasium, Melanie van der Merwe, het na haar kroning onderneem om haar titel te gebruik om in haar gemeenskap ’n verskil te maak. Só het sy op 16 September die Namibia Little Learners Initiatief (NLLI) in Epako, Gobabis, geloods.
Die projek het begin met die oorhandiging van die eerste agt Class Out Of A Box-pakkies aan vier kleuterskole, met elkeen wat ’n boks vir drie- tot vierjariges en een vir 5- tot 6-jariges ontvang het.
Die kleuterskole wat daarby gebaat het, is Vita-Min Pre-School, Val-en-Opstaan Pre-School, Good Hope Pre-School en Buitepos Pre-School.
Voor die oorhandiging het versorgers by elke skooltjie ’n opleidingsessie ontvang oor hoe om die items in die pakkies te gebruik. Die opleiding is behartig deur Alida Hill van Windhoek, die ontwikkelaar en eienaar van Class Out Of A Box
Die opleiding en oorhandiging het by die Light for the Children-welsynsorganisasie plaasgevind, onder wie se vaandel die NLLI bestuur word.
Melanie het opgewonde gesê dat “verteenwoordigers van die onderwysministerie wat teenwoordig was, baie beïndruk was met die konsep en vol lof is vir die inisiatief aangesien dit ’n leemte aanspreek”.
Ook teenwoordig by die geleentheid was Omaheke se goewerneur, Pijoo Nganate, wat op sy beurt gesê het dit is prysenswaardig dat Melanie by die inisiatief betrokke is.
Hy het voorts genoem dat as ’n oud-onderwyser, onderrig hom na aan die hart lê en dat dit hierdie ’n wonderlike manier is vir die privaatsektor om ’n leemte te vul in kinders se ontwikkeling en opvoeding.
Nganate het ook die borg van die agt pakkies en Gobabis Toyota bedank vir hul jarelange betrokkenheid en finansiële ondersteuning van vele liefdadigheidsprojekte in die Omahekestreek.
Gobabis Toyota is verteenwoordig deur Tati Kamule en Stefan Botes.
Tydens die geleentheid het Kumule gesê dit is vir die Gobabis Toyota-familie baie belangrik om terug te ploeg in die gemeenskap en hulle is trots om geassosieer te wees met die NLLI en Melanie van der Merwe.
Ten slotte het Melanie haar dank teenoor die eienaars van Gobabis Toyota, Theo en Jaco Redelinghuys, uitgespreek vir die borgskap ter waarde van N$62 000. “Sonder borge is hierdie soort inisiatiewe nie moontlik nie.”