'n Wonderlandfees: Mnr en Mej WAP se mooistes gekroon

Die skoolgemeenskap het hard gewerk om 'n sukses van die geleentheid te maak
'n Betowerende geleentheid het verlede Vrydag by Windhoek Afrikaanse Privaatskool plaasgevind, toe die skool vanjaar se Mnr. en Mej. WAP gekies het.
Michaiyla Hansen
Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) het verlede week hulle jaarlikse skoonheidskompetisie aangebied, waar Luca Coffee en Dreyer Oberholzer onderskeidelik met die kroon van Mej. en Mnr. WAP weggestap het.
Volgens skoolhoof, mnr. Kobus Espach, is die skouspel 'n jaarlikse feesviering, vanjaar met die tema 'Alice in Wonderland'.
Espach, sy onderwyspersoneel, ouers, vriende en familie was baie opgewonde en kon nie wag om te sien wie sou met die titel wegstap nie, terwyl die skoolgemeenskap hard gewerk het om van hierdie geleentheid 'n sukses te maak.
Die organiseerders het 'n magiese atmosfeer geskep deur die saal in 'n sprokieswêreld te verander. Boonop was die aand gevul met sprankelende kostuums, kleurryke dekor, en 'n
algemene gevoel van vreugde.
Die hoogtepunt van die aand was natuulik die aankondiging van die wenners. Luca het die harte van die beoordelaars gesteel met haar verbeeldingryke uitbeelding van 'n moderne Alice in Wonderland. Voorts het sy die gehoor betower met haar elegante optrede en oortuigende vertolking van die karakter.
Dreyer het op sy beurt sy rol as "Mad Hatter" treffend vertolk. Sy kreatiewe benadering tot die karakter en sy aansteeklike energie het hom as 'n wenner laat uitstaan.