'NextGen'-Jeugaanbiddingsfees hierdie Saterdag

Die NextGen-Jeugaanbiddingsfees (NGY) word binnekort in Windhoek gehou en dit beloof om iets besonders en spesiaal te wees.
Zoe Karsten
Die NGY-fees is uit en uit ‘n byeenkoms vir kinders tussen 14 en 18 jaar oud wat die geleentheid kan geniet om voor die Here te staan en Hom te aanbid, sê Francois Dames, Agapé Windhoek se jeugpastoor en hooforganiseerder van die NextGen-aanbiddingsfees wat Saterdagaand plaasvind.
Die geleentheid word gekenmerk deur sy feestelike atmosfeer en volgens Dames, bestaan die program uit regte jeug-vibes met foto's wat op groot skerms vertoon word, ligvertonings en orkeste wat die dak gaan laat lig.
"Dit is ’n plek waar geloof en die strate ontmoet. Daar sal kos- en koeldrankstalletjies wees wat deur die aand verkoop word sodat niemand honger of dors ly nie," vertel hy.
NGY beoog om 800 tot 1 000 kinders van regoor Namibië te lok. Dames bevestig dat hy persoonlik na soveel moontlik jeugpastore en kerkleiers as moontlik uitgereik het en wat om die beurt onderneem het om bussies vol kinders uit alle uithoeke van die land na die hoofstad te bring.
Die ondergrondse parkeerarea van Grove Mall in Windhoek (tussen Wimpy en OTB) word vir die fees omskep in ’n heilige ruimte gevul met aanbidding en energie. Dames beloof aan alle ouers dat “hierdie fees veilig en met goeie sekuriteit” gehou word.
“Daar gaan twee of drie oomblikke deur die loop van die aand wees waar ons iets prakties ook gaan deel. Die kinders gaan iets moet skryf of iets moet doen,” het Dames gesê.
Dus, bring jou vriende, jou passie en ’n oop hart, want hierdie is meer as net ’n geleentheid - dit is 'n beweging.
Hekke maak Saterdag (17 Augustus) om 16:00 oop en sluit 17:30 om toegang te beheer. Die eerste vertoning begin om 18:00. Kaartjies kos N$120 per person en is by https://eticket.my.na/ beskikbaar.
Moenie hierdie onvergeetlike aand misloop nie!