Prag en praal op die platteland

Tydens die Napso Privaatskolenaweek het meer as 700 mense in die Elnatan-skoolsaal saamgedrom om die Mnr. en Mej. Napso-Privaatskole se kroningsgeleentheid by te woon.
Aldo Horn en Zoë Karsten
Die tema van vanjaar se Napso Privaatskolenaweek was Prysloos Platteland en elke skool moes tydens die skoonheidskompetisie hul temadrag in een van hierdie subtemas uitbeeld: Voëls, voëlverskrikker, sterre, donderstorm, gras, boom, braaibroodjie, reënboog, vuur of hoenderhaan.
Elke skool en deelnemers het die uitdaging heelhartig aangepak en die resultaat was uitmuntende kostuums.
Die temadrag is gevolg deur ’n danskompetisie waar die deelnemers verskillende genres uitgebeeld het - van hip-hip en sokkie tot die tango. Die danse was beslis ’n gunsteling onder die skare.
Voor die wenners aangekondig is, het die deelnemers in hulle formele drag gepronk. Die meisies het asemrowende aandrokke gedra terwyl die seuns in deftige pakke geklee was. En, as ’n laaste toets, is daar vrae aan die deelnemers gestel om hul kommunikasievaardighede op die proef te stel.
Elma Kriel van Tsumeb Gimnasium is as Mej. Napso-Privaatskole aangewys met Joy Lewis van Walvisbaai Privaatskool as haar eerste prinses, en Melanie van der Merwe van Gobabis Gimnasium as haar tweede prinses.
Henré Oppermann van Gobabis Gimnasium is as Mnr. Napso-Privaatskole gekies gevolg deur Russel Bartlett van Tsumeb Gimnasium as eerste prins, en Christo Smith van Walvisbaai Privaatskool as sy tweede prins.
Beide die wenners het kort na die kroning gesê hoe hulle nie kon glo hulle het gewen nie. “Ek was baie geskok, maar ek was baie gelukkig gewees,” het Henré gesê.
“Tsumeb Gimnasium het my deur die aand gedra en ek glimlag nog al die pad!” het Elma Kriel bygevoeg.