Suksesvolle Privaatskolenaweek op Stampriet

Prysloos Platteland
Mei-maand is tradisioneel die tyd wanneer die Namibiese Privaatskole-organisasie (Napso) se skole byeenkom vir hulle Privaatskolenaweek. Vanjaar is hierdie byeenkoms deur Privaatskool Elnatan op Stampriet aangebied en het vanaf 1 Mei tot 4 Mei geduur.
Zoe Karsten
Meer as 3 000 besoekers in die vorm van deelnemers en ondersteuners het ’n draai gemaak by die privaatskolenaweek wat op Stampriet gehou is.
Die finansiële ondersteuning van beide besoekers en borge – veral Securitas as hoofborg – maak hierdie soort byeenkomste moontlik en is ’n groot bate vir plattelandse skole.
Twaalf skole het vanjaar byeengekom om teen mekaar mee te ding: Privaatskool Elnatan as gasheer, Oranjemund Privaatskool, Keetmanshoop Privaatskool, Windhoek Afrikaanse Privaatskool, Gobabis Gimnasium, Pro-Ed Akademie, Walvisbaai Privaat Hoërskool, Laerskool Walvisbaai, Privaatskool Swakopmund, Privaatskool Moria, Edugate Akademie, en Tsumeb Gimnasium was almal deel van die opwinding.
Leerders het aan verskeie sportkodes soos boogskiet, skaak, tennis, netbal, hokkie, juksei en rugby deelgeneem. Die sporthoogtepunt was die proewe vir die Napso-spanne wat die Woensdag plaasgevind het. Die o.16- en o.19-juksiespanne, o.13- en 0.19-netbalspanne, die o.13- en o.19-rugbyspanne, en die o.19-hokkiespanne gaan later vanjaar in Suid-Afrika deelneem.
Die Donderdagmiddag tydens die amptelike opening, het Napso se uitvoerende hoof Wouter Niehaus beklemtoon hoe “spesiaal” dit is om weer na al die jare terug te wees waar die eerste privaatskolenaweek gehou is.
Die aand is afgesluit met die jolige kaskarresies.
Volgende jaar sien ons julle op Outjo by die Privaatskool Moria, Namibië se oudste Afrikaanse privaatskool, waar die tema “Afrikaners is plesierig” die honderste verjaarsdag van Afrikaans herdenk.