Tsumeb Gimnasium wys guts in Wynberg!

Karla Bence
Die Compack Tsumeb Gimnasium O/19-rugbyspan het onlangs ‘n toer na die Hoërskool Wynberg Rugbyfees onderneem – ‘n week van harde wedstryde, spanbou en ‘n gees
wat onbreekbaar gebly het.
Met 260 spanne van regoor Suid-Afrika wat aan die toernooi deelgeneem het, was dit ‘n ervaring wat nie net hul spel, maar ook hul karakter gevorm het.
Die span het die Vrydag hulle eerste harde wedstryd teen Bishops gehad – een van die Wes-Kaap se top rugby-skole. Hoewel hulle elke oomblik van die wedstryd geveg het, moes hulle uiteindelik ‘n nederlaag van 43–3 aanvaar.
Maar as daar een ding is wat Tsumeb Gimnasium se manne nie doen nie, is dit tou opgooi!
Na die harde wedstryd was Saterdag ‘n kans om asem te skep. Die span het die dag spandeer in ‘n winkelsentrum, waar hulle Laser Tag en ysskaats geniet het – ‘n bietjie ontspanning voor die volgende groot stryd.
Die Sondag het Tsumeb Gimnasium teen St. Charles College te staan gekom. Dit was ‘n taai wedstryd. Hulle het hard geveg en moed getoon tot die laaste minuut, al was die eindtelling 41–10 in St. Charles se guns. Ná die wedstryd het die span die branders aangedurf vir ‘n surf-sessie – ‘n welverdiende breek ná ‘n fisiese stryd.
Dinsdag het die span met nuwe vasberadenheid hul laaste wedstryd teen Hoërskool Namakwaland aangepak. Dit was ‘n naelbytstryd, en Tsumeb Gimnasium het hul volle krag en deursettingsvermoë gewys. Hierdie keer het die manne met ‘n oorweldigende 48–12 die wedstryd gewen.
Die Hoërskool Wynberg Rugbyfees was ‘n ongelooflike ervaring vir Tsumeb Gimnasium se spelers. Om teen twee van die grootste seunsskole in Suid-Afrika op ‘n hoofveld te kon uitdraf, was ‘n les in uithouvermoë en spanwerk. Hulle het die Gimmie Guts-mentaliteit ten volle uitgeleef en gewys dat ware gees en deursettingsvermoë swaarder weeg as grootte of statistieke.
Die span het nie net hul spel verbeter nie, maar ook ‘n diep band van spanwerk en vertroue gebou. Die ervaring om saam te veg, te leer en te groei het hulle nie net sterker spelers gemaak nie, maar ook sterker individue. Hulle keer terug huis toe met ‘n nuwe vlak van vasberadenheid en ‘n trots wat verder as die telbord strek – ‘n bewys dat ware veggees nie in punte gemeet word nie, maar in karakter!