Vlamme brand by Mnr en Mej Privaatskolenaweek

Noa Bartholomae
Mnr en Mej NAPSO-Privaatskole is ’n kans vir alle NAPSO-skole om met hulle beeldskone en sjarmante leerders te spog.
Die kroning word elke jaar tydens die Privaatskoleweek gehou. Elke skool se twee wenners kry die kans om namens hulle skool om die kroon mee te ding.
Vanjaar was die kompetisie op Stampriet gehou. NAPSO-skole van regoor die land het deelgeneem. Die atmosfeer was elektries terwyl die hele saal vol toeskouers sit en wag het vir die verrigtinge om te begin.
En toe skop dinge af: Die ligte is gedemp en die eerste deelnemers kom by die verhoog afgeloop. Trotse skoliere klap hande en juig.
Die temadrag was iets om te beleef. Daar was ’n reuse verskeidenheid kostuums van hoenders tot braaibroodjies! Tsumeb Gimnasium se kandidate, Elma Kriel en Russel Bartlett, het die hele saal aan die brand gehad met hulle “vurige” uitrusting. Ons tema, soos julle kan aflei, was vuur.
Dié jaar was daar ’n paar nuwe elemente ingebring. Erstens was daar ’n danskompetisie geïnkorporeer. Deelnemers moes ’n dans saamstel en uitvoer. Daar was danspassies van alle soorte: Van ’n Salsa tot die Jive. Ons Gimmie-verteenwoordigers het ’n opwindende “dance-off” uitgevoer.
So het die spanning net aanhou opbou.
Die formele afdeling was volgende - ’n kans vir meisies om hulle blinkste rokke aan te trek en vir seuns om te spog met hulle aantreklike aandpakke. Formele drag is gewoonlik die hoogtepunt alle skoonheidskompetisies en Mnr en Mej Privaatskole was geen uitsondering nie. Mense het omtrent hulle asem opgehou soos die paartjies een vir een op die verhoog verskyn.
Na die laaste kandidate die verhoog verlaat, kon die atmosfeer met ’n mes gesny word, want almal weet wat volgende
kom. Die oomblik waarvoor almal gewag het, is uiteindelik hier!
Daar was ’n oomblik se stilte, die wenners word aangekondig: “Ons Mej NAPSO 2024 is... Elma Kriel!” Die hele saal juig en skree, die oomblik is groot.
Beide Tsumeb Gimnasium se kandidate het ’n plek in die top 3 ingepalm.
Wat ’n aand!