Windhoek leerders jodel in Switserland

Windhoek Afrikaanse Privaatskool en Gymnasium Kloster Disentis in Switderland het vanjaar vir die sesde keer 'n uitruilprogram aangebied.
Zoë Karsten
Juanika Engel, Luca Coffee en Coetzee de Bruyn het van 9 to 26 Maart in die sneeubedekte Switserse Alpe baljaar. Dit volg na drie leerders van die Gymnasium Kloster Disentis in Switserland in Oktober verlede jaar vir drie weke die Namibiese sonskyn kom geniet het.
In 'n telefoniese gesprek 11 200 km van hier, het My Zone met Luca gesels. Ons wou by haar weet hoe die eerste week by GKD verloop het.
“In die eerste week het ons elke dag saam met die vyfde graad (ons graad 11) klasgedraf. Die skooldae is lank (07:45 tot 15:30) maar hulle interessante klasaanbiedings het die ure vinnig laat verby gaan."
Luca vertel verder dat hulle ná die eerste week Luzern toe is en die strate en markte verken het. Hulle het met ‘n boot op die Luzern-meer na die “Verkehrshaus der Schweiz” (die Switserse Museum van Vervoer) gevaar en ook die bekende ”Swiss Chocolate Adventure” aangepak. Daardie Sondag het hulle op ‘n ongeveer 150 km treinrit na 'n koorkamp in Feldkirch, Oostenryk, vertrek.
“In Feldkirch het ons die Stella Vorarlberg Privathochschule für Musik asook Gymnasium Schillerstraße besoek terwyl ons in 'n pragtige ou herberg gebly het. Dit was 'n voorreg om nuwe werke saam met só 'n vooraanstaande koor te kon oefen."
Luca het opgewonde vertel dat hulle terug in Disentis die Donderdagoggend saam met die Disentiskoor 'n eg tradisionele kooruitvoering opgevoer het tydens die jaarlikse St Benedictusdiens in die asemrowende katedraal, die Disentis abdy.
Voor hulle na Zürich vertrek het, het die groepie by ‘n afskeidsgeleentheid die skoolhoof, mnr. Tom Etter, onderhoof Pater Paul Tobler, en Ursin Defuns bedank vir hul gasvryheid en ook met hartseer die ander vriende wat hulle gemaak het, gegroet.
Die oud-Wapper, Marthien Venter, het hulle in Zürich ontvang en vir oulaas bederf met 'n vinnige toer deur die stad se bekende winkels voordat hulle lughawe toe is.
Namens die groep sê Luca: “Woorde en foto’s is te min om vir al die betrokke partye dankie te sê vir herinneringe wat ons 'n leeftyd gaan bybly."