’n Naweek vol gees

Rooigebrand of natgereën, Atletiek 2024 was ’n fees!
Die afgelope naweek het die heuwels om die hoofstad gedreun met krete wat wyd en syd gehoor kon word.
Zoe Karsten
Zoë Karsten – Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP), Windhoek Hoërskool (WHS) en Windhoek Gymnasium het onder meer die afgelope naweek hul interhuisatletiek-byeenkomste gehou.
Die My Zone-span het deur die loop van die naweek die drie byeenkomste bygewoon.
Oud en jonk het van vroegdag af laer getrek by die verskillende skole se verrigtinge. Dit was ’n mengelmoes van kleure en geure soos almal met gazebo’s en pienkniekmandjie nesgeskop het vir ’n dag van skole-atletiek.
Elke geleentheid is met ’n spoggerige optog en geesbou afgeskop en ten spyte van dreigende reënwolke het alles teen volle spoed gehardloop.
Daar was hoendervleis-oomblikke waar 100 m- en 200 m-wedlope nostalgiese herinneringe opgeroep het aan wedlope van helde soos Frankie Fredericks. Nuwe rekords is opgestel, persoonlike beste tye en afstande is verbeter en om vele se nekke het medaljes gepronk.
Dit was wonderlik om soveel oupa’s en ouma’s langs die baan te sien, oudskoliere wat met trots hulle skoolspan aanmoedig en dan sommer aan die einde van die dag aan die afloswedren vir oudskoliere deelgeneem het, al het hulle hulle spykerskoene lankal opgehang.
Sommige matrieks het ook die dag ten volle benut om spesiale vriendinne te vra om hulle na die matriekafskeid in Oktober te vergesel. Hulle kreatiwiteit het beslis ook medaljes verdien.
Of jy vir Swarthaak of Kanniedood, Blanco of Azul, Guineas of Geckos ondersteun het, dit maak nie saak nie, solank jy pannekoek gekoop en die atlete ondersteun het, was jy die naweek by “Die Atletiek”.
Geluk aan Blanco by WAP, Kanniedood by WHS en Gurris by Windhoek Gymnasium wat met die louere weggestap het.