Andries Namibië se miljoenrandman

Henriette Lamprecht
Hy het himself nog altyd as ‘n entrepreneur beskou deur heuning te verkoop en self in te spring om chilli bites te maak en te verkoop. Donderdagaand het die 23-jarige Andries van Veen Namibiërs se harte laat swel van trots toe hy as die wenner van Die miljoenrand-idee op Via KykNET aangewys is.
In die program het twee beleggers van Ernest Wealth, Riaan Grobler en Thys van Zyl, gesoek na ‘n besigheidsvoorstel wat vir ‘n opskudding in die sakewêreld sal sorg. Die uiteindelike wenner was Andries se blink idee wat boere help om die watervlakke van hul tenks te meet en te monitor. Boonop het dit ook ‘n toep wat met radiofrekwensies werk en alles word in die Wolk gestoor.
Hy het van jongs af geleer om met sy hande te werk, vertel Andries, en het graag houtwerk gedoen en ‘n passie vir ontwerp gehad. As klein seuntjie was hy immer al geïnterresseerd om goedjies uitmekaar te haal om te sien hoe werk en lyk iets aan die binnekant. Volgens hom het sy kamer gereeld soos ‘n werkswinkel gelyk!
Andries bly sedert hy drie jaar oud was in Namibië waar hy sy skoolloopbaan by die Pionierspark Primêre Skool begin en daarna as leerling by Windhoek Hoërskool inval. Hy voltooi graad 11 en 12 in Suid-Afrika by die DF Malan Hoërskool. In Namibië was ontwerp en tegnologie een van sy beste vakke en in Suid-Afrika ingenieursgrafika en ontwerp, waarvoor hy jaarliks die vakpryse ontvang. Sy naskoolse onderrig was by die Universiteit van Stellenbosch waar hy hom in megatroniese ingenieurswese bekwaam.
In sy tweede jaar van ingenieurswese kom kuier hy vir die vakansie saam met sy vriend Janco du Plooy in Namibië en saam bou hulle ‘n huis vir Janco se huishulp in Katutura. Andries en Janco gaan kuier op Kameeldoring, Stephan Malan, se plaas, waar Stephan ‘n uitdaging aan die twee jong amper ingenieurs stel – installeer ‘n toestel op die plaas waarmee Stephan die watervlakke op sy slimfoon kan waarneem. Die twee jong mans kyk na die opsies op die mark en installeer twee SMS-toestelle wat hulle in Windhoek gekoop het.
Oplossing
Andries besluit om ‘n goedkoper oplossing te ontwerp wat werk met sonkrag en radiofrekwensie sodat ‘n boer nie noodwendig sein by al sy waterpunte hoef te hê nie. Sy fokus is ook om dit gebruikersvriendelik te maak. As deel van sy finalejaarprojek met dr. Armand du Plessis as sy akademiese promotor, ontwikkel hy die produk verder.
In 2023 vang Andries graad en is daar besprekings om sy konsep “verder te neem” in samewerking met die universiteit en Innovus en Launch Lab. Hy besluit egter om eerder te begin werk en ‘n vaste salaris te begin verdien, en omdat hy graag sy kennisbasis wou uitbrei.
Nie lank hierna nie, laat weet ‘n koshuisvriend van die inskrywings vir Die miljoenrand-idee. Aanvanklik dink Andries dis net ‘n kompetisie, maar vind later uit hy is een van die 30 kandidate vir ‘n televisiereeks wat op Via deel van die DStv-pakket uitgesaai sou word.
Hier skuur en skaaf hy saam met sy mentor Riaan Grobler van Everest Wealth verder aan sy besigheidsidee.
Top tien
Andries word gekies as een van die top tien waar hy sy idee moes voorlê en uitbeeld hoe dit werk en ook aan mense in die landboubedryf voorlê. As een van die top vier kandidate moes hy vervolgens ook sy idee aan potensiële beleggers voorlê, wat gevoel het hy moet eers die produk aan die mark bekendstel, voordat hulle ‘n moontlike belegging sal oorweeg.
Jan publiek kon via Whatsapp of SMS stem vir hul gunstelingkandidaat uit die finale vier en die res is soos hulle sê miljoenrand-geskiedenis!
Andries wil nog nie verklap wat hy met sy prysgeld gaan doen nie. Dalk ‘n lappie grond en ‘n paar skapies koop en volgende jaar inskryf vir Boer soek ‘n Vrou, sê hy tong-in-die-kies. Maar vir nou is sy boodskap een van dankbaarheid.
“Die boodskap is net om dankie te sê vir julle ondersteuning in my reis in Die miljoenrand-idee tv-kompetisie. Dit is ’n absolute voorreg om so ’n groep vriende, familie en kennisse te hê wat my deur die proses bygestaan het en geglo het ek het die miljoenrand-idee. Dankie vir julle stemme; sonder julle stemme sou ek nie hierdie ongelooflike voorreg kon geniet nie.”- [email protected]