Baasspeurder Becker sterk aan
“Ek sterk goed aan en is steeds by die ondersoek betrokke.”Só sê kommissaris Nelius Becker, die hoof van die Namibiese polisie se Instituut vir Forensiese Wetenskap (NPFSI), nadat hy Sondag albei sy enkels tydens sy ondersoek na die Namib Desert Diamonds (Namdia)-rooftog gebreek het.
Hy vertel hy is beseer toe hy ondersoek ingestel het hoe die verdagtes uit Namdia se hoofkantoor ontsnap het aangesien die polisie die hoofingang tydens die rooftog versper het.
“Ek het ’n kombers op die elektriese heining gesien en daar gaan kyk. Ek het op die muur geloop na ’n buitegebou in die erf langsaan ’n huis wat ook aan Namdia behoort en die sink op die dak getoets.
“Dit was glad nie stabiel nie, so ek het toe ’n deel getoets wat van asbes gemaak was. Dit was stabiel en ek het daar gaan staan en terwyl ek met iemand onder gepraat het wat die leer gehad het, het ek deurgeval,” verduidelik hy oor die voorval.
Becker het aanvanklik nie die erns van sy beserings besef nie en het sy ondersoek voortgesit. Eers nadat hy by die huis gekom het, het hy besef hy is ernstiger beseer as wat hy gedink het. Hy is toe hospitaal toe waar hy meegedeel is dat hy albei sy enkels gebreek het.
Ten spyte van sy beserings het hy gister ’n ligte oomblik gedeel wat in die hospitaal gebeur het.
“’n Mens kan mos nie in ’n hospitaal slaap nie – so hier teen middernag lê daar twee ouens wat ek aflei praat oor ’n fietsongeluk. Ek is gebel en begin praat toe oor die Namdia-saak. Die een man sê toe vir die ander een: ‘Ek dink daai ou langs jou het ’n beter storie om te vertel as ons’.”
Hoewel mediese personeel hom opdrag gegee het om vir die volgende paar weke te rus, sê hy dat hy nie gaan ophou werk nie.
“Ek werk van die huis af en het sopas vir die span nog take gegee om te doen. Ek is lief vir my werk, so ek gaan dit nie sommer net vir hierdie weke kan los nie,” sê Becker.
Hy is uit die hospitaal ontslaan en sterk tans by die huis aan. – [email protected]