Die liefde leef voort
’n Egpaar wat onlangs hulle 50ste (goue) huweliksherdenking gevier het, het mekaar op ’n Sondagmiddag in 1972 by Loss Restaurant (daar waar Crows Inn vandag in die Laeveld – Eldorado staan) in Khomasdal ontmoet.Mona (gebore Fransman) en Gert Loxton (72) het op 28 Mei 1974 trou aan mekaar beloof.
Albei stem saam dat die oomblik toe hulle mekaar gesien en hulle paaie gekruis het, hulle instinktief geweet het hulle is vir mekaar bedoel.
“Ons het twee jaar uitgegaan en is deur Vader Knuph in die huwelik bevestig in die Rooms-Katolieke Kerk, Maria Hulp van Ons Christene Parogie in Khomasdal.
“Ek sou nooit kon dink dat ons dit tot hier sou maak nie. Ons was bloedjonk en onkundig,” vertel Mona (69), wat in Windhoek gebore is.
Haar neef Gerhard Rassie en ’n vriendin Rosemarie Abrahams was getuies by die seremonie en op dié dag was Mona 19 en Gert 21 jaar oud.
Sy voeg by: “Daar was talle stampe en stote. Ons het ook gestry maar tog het ons tot nou toe volgehou danksy die respek wat ons vir mekaar het. Getroude paartjies moet lief vir en getrou aan mekaar wees.”
Gert, wat oorspronklik van Suid-Afrika kom, stem heelhartig saam oor die op- en afdraandes wat hulle saam gehad het.
“Maar, ná 50 jaar van getroude lewe, smaak selfs die sout soms vir my soet.”
Hy sê toe hy Mona se oog vang, het hy geweet sy is die meisie by wie hy die res van sy lewe wil “stick”.
“Ek onthou die oomblik asof dit gister was. Vandag is ons met drie kinders en 11 kleinkinders geseën.”
Toe Gert Sondag die troubeloftes herhaal wat hy aan sy geliefde Mona afgelê het op die einste plek waar hulle 50 jaar gelede voor die kansel gestaan het, het sy oë vol trane geskiet en moes hy plek-plek diep asemhaal om sy woorde te voltooi.
Vir hom is geduld en kommunikasie van deurslaggewende belang vir ’n lang verhouding.
“Jou optrede moet wys dat jy omgee. Sy het my geleer om altyd dankie te sê en ook om dit te doen vir die klein dingetjies. Ek is die Here ewig dankbaar dat Hy haar op my pad geplaas het.”
Om die spesiale dag te vier het die egpaar se oudste seun, Claude (51), familie en vriende vir potjiekos en ’n braai genooi.
“Ons het goeie geselskap gehad en dit was vir ons goed om dit saam met die vriendekring, wat ons oor al die jare opgebou het, te kon beleef,” het die egpaar afgesluit.
– [email protected]