'Hoekom moet ons trek?'

Gesinne vrees verskuiwing
Inwoners van tien erwe in Okahandja se informele nedersetting RCC Kamp staar gedwonge hervestiging in die gesig.
Jemimah Ndebele
’n Gesin in Okahandja se informele RCC Kamp nedersetting staar die vooruitsig in die gesig om ná dertig jaar uit hul huis gedwing te word.
Dit nadat die munisipaliteit die grond waarop die gesin onwettig woon, aan ’n plaaslike inwoner verkoop het.
Volgens die dorp se uitvoerende hoof, Alfons Tjitombo, het die staatsbeheerde Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC) die grond ter sprake in 2011 aan George Gariseb verkoop.
Die gesin bestaan uit ’n man wat vier jaar gelede sy werk as tuinier op ’n plaas verloor het nadat hy ’n beroerte gehad het en daarna nie kon loop of praat nie, sy ouers (pensioenarisse), ’n neef met geestesgesondheidsprobleme en ’n suster wat in graad 11 is.
Else Kehinana, ma van die 40-jarige gestremde Elvis Cloete en die primêre versorger van haar 30-jarige broerskind – wat met geestesgesondheidsprobleme leef – woon sedert 1995 saam met haar gesin in een van die huise wat die RCC opgerig het.
“Ons bly al lank hier. Nou, omdat iemand die grond waarop ons woon vir N$100 000 gekoop het, moet ons trek. Ons het water hier en het gesmeek vir elektrisiteit. Hoekom kan hulle nie ander stukke grond rondom die dorp verkoop nie? Hoekom ons skuif?” het sy gevra.
Volgens uitsettingsdokumente wat NMH onder oë gehad het, sal inwoners van 10 erwe, nommer 2786 tot 2795, in die RRC Kamp na verwagting na Ekunde no. 4 – naby die dorp se stortingsterrein – verskuif word.
Die gesin is bekommerd oor sanitasie, veiligheid en beperkte toegang tot gesondheids- en opvoedkundige dienste.
“My seun is gestremd; hoe kan hulle van ons verwag om na ’n stortingsterrein te trek wat nie eers gedienste grond of water het nie? Hoe sal ons kinders by die skool kom? Dit is absoluut onregverdig, en ek is bang om geskuif te word,” het Kehinana gesê.
Nog ’n inwoner wat uitsetting in die gesig staar, is ’n 26-jarige ma van twee, Biola Uwu-Khaes, wat vrees vir die toekoms van haar kinders se opvoeding en algehele lewensgehalte as hulle na Ekunde no. 4 moet verhuis.
“Om ons na die stortingsterrein te skuif, sal ons en ons kinders grootliks verontrief. Omstandighede is reeds moeilik soos dit is, en gedwonge verskuiwing na grond wat nie eens gediens is nie, sal dit nie vir ons makliker maak nie,” het sy gesê.