Jong Namibiër bereik groot hoogtes

‘My ware passie en liefde lê by my land’
Bartho Harmse het onlangs sy meestersgraad in ruimte-ingenieurswese en -bestuur aan 'n buitelandse universiteit ontvang.
Iréne-Mari van der Walt
“Vir my brein om gestimuleer te bly, het ek die uitdaging nodig gehad en wat beter om te doen as ‘rocket science’? Dis nogals ’n ‘flex’ om vir mense te sê, so daar was ’n bietjie van ’n ander element betrokke by my keuse.”
Só skerts die Namibiër Bartho Harmse wat onlangs sy meestersgraad in ruimte-ingenieurswese en -bestuur aan die Universiteit van Glasgow se James Watt School of Engineering in Skotland verwerf het.
Bartho sê dat sy belangstelling in wetenskap, en sy gawe vir praktiese handewerk hom tot ingenieurswese gelei het.
“Dit wat vir my uitgestaan ​​het, was nie noodwendig ’n spesifieke belangstelling in die ruimtebedryf nie. Dit was meer ’n geval waar ek besef het ek gaan in die buiteland studeer en ek wou nog altyd ’n wetenskaplike rigting volg.
“Ek was nog altyd baie handig en prakties, so ek het natuurlik meer in die rigting van ingenieurswese gedink,” sê Bartho.
Die feit dat sy ouer broer, Marlo, reeds ’n student in Skotland was, het sy besluit makliker gemaak.
“Toe ek hom by sy universiteit gaan besoek het, het ek besef ek hou nogal van die mense hier, ek hou van die universiteit, toe besluit ek om soontoe te gaan,” sê hy.
Bartho was van plan om ’n vlieënier te word, maar hy sê hierdie belangstelling het hom nie aangegryp soos ingenieurswese nie.
“Dit is eintlik iets waarin ek nog altyd belang gestel het. Ek het ’n vlieënierslisensie gedoen toe ek jonger was. Oorspronklik het ek dit half oorweeg om ’n kommersiële vlieënier te word, maar ek het besef dit was nie regtig vir my nie.
“Ek het gedink ek hou daarvan om dinge met my hande te doen; ek hou van vliegtuie – as ek nie vliegtuie wil vlieg nie, kan ek dit dalk gaan bou en hoekom neem ons dit dan nie ’n stap verder en oorweeg ruimtetuie ook nie,” sê hy.
NAMIBIË KOM EERSTE
Hoewel Bartho in sy jong dae van ’n lewe oorsee gedroom het, sê hy sy liefde vir Namibië en die verantwoordelikheid wat hy teenoor sy land het, het hom aangespoor om sy kennis en talente hier te belê.
“Ek werk as ’n ingenieur en ek geniet my werk, maar my ware passie en liefde lê by my land.
“Dit is nie iets wat oornag opgeduik het nie. Daar was nie iets wat gebeur het soos ’n eureka-oomblik toe ek skielik besef het ek is mal oor Namibië nie,” sê hy.
“Soos meeste jongmense toe ek op skool was, het ek hierdie idee gehad dat Namibië onderontwikkel is en dit is vervelig hier vir jongmense en ek wou oorsee gaan. Ek wou net wegkom – tot ek oorsee gaan bly het.
“Daar is ’n groot verskil om ’n land as ’n toeris te besoek en om ’n land as ’n tydelike inwoner te besoek. Dit is iets wat jy eers besef wanneer jy dit self beleef. Dit is nie iets wat jy aan ander mense kan beskryf nie.
“Ek het altyd hierdie idee gehad dat ek oorsee wil gaan bly tot ek besef het die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie; almal het eintlik maar hul eie probleme.
“Soms is die probleme wat ander lande het nie iets waarby jy so maklik kan aanpas soos die probleme in jou eie land waarmee jy grootgeword het nie,” verduidelik hy.
Tydens die Covid-19-pandemie het Bartho, wat ou motors as ’n stokperdjie restoureer, homself oortuig om ná sy studies permanent na Namibië terug te keer.
“Ek het aan die begin [van die grendeltyd] teruggekom Namibië toe en gedurende daardie tyd het ek aan my motors gewerk en deur die dag toe ek daar gewerk het, het die aantal mense wat vir werk kom vra het astronomies geword.
“Dit was mense wat met ’n pakklere opgedaag het met hul CV’s in die hand. Dit was mense wat bestuurders was en hul werk verloor het weens die pandemie. Wanneer ek vir hulle gesê het dit is ’n stokperdjie so ek kan nie werk verskaf nie, het hulle gesê hulle sal my vloere vee – hulle het net iets gesoek om te doen,” sê hy.
“Dit is iets wat my hart regtig laat bloei het en ná die pandemie het ek besef ek moet terugkom Namibië toe, want ek het die vermoë om ’n verskil in Namibië te maak meer as in Brittanje.”
Bartho het besluit dat hy nie sal bydra tot die sogenaamde “brain drain”-verskynsel nie.
“Daar is geen rede vir my om oorsee te gaan werk en missiele, waarin my graad ietwat spesialiseer, te bou en ryk mense ryker te maak wanneer die mense in my land besig is om swaar te kry nie.
“Die groot probleem in Afrika, in my opinie, is dat almal wat die vermoë en die talent het om ’n verskil te maak, besluit om hul talent na ’n ander land te neem, en ek wou nie deel van daardie groep mense wees nie,” sê hy.
Vir hom is die vryheid wat Namibiërs as vanselfsprekend aanvaar een van die eienskappe wat Namibië vir hom aanloklik gemaak het.
“Ja, ons het ons probleme, maar daar is baie dinge wat jy hier kan doen wat jy nie oorsee kan doen nie. Jy het baie meer persoonlike vryheid, glo dit of nie,” sê Bartho.
“Dit is een ding wat vir my ’n baie groot aanpassing was die eerste paar weke in Brittanje. Dit is nie soos Namibië waar jy kan sê wat jy wil en iemand sal iets terugsê en dit is die einde van die storie nie.
“Daar as jy die verkeerde ding sê, kan dit jou loopbaan beïnvloed of dit kan veroorsaak dat jy jou plek in ’n universiteit verloor,” verduidelik hy.
KINDERJARE
“As ek my jonger self moes opsom, sou ek sê te veel energie en te veel kattekwaad,” sê Bartho wat verduidelik dat sy pa, Barney, se invloed hom gehelp het om sy nuuskierigheid van kleins af te ontwikkel.
“Ek dink [ingenieurswese] het my persoonlikheid die beste gepas omdat ek ’n baie handige mens is en dit is iets wat ek van my pa af gekry het. My pa kan swys, skrynwerk doen, hy weet hoe om ’n kar reg te maak as dit gebreek het en so aan.
“My pa het altyd moeite gedoen om my en my broer te betrek wanneer hy ook al in die garage met ’n projek besig was,” onthou hy.
Sy ma, Alma, verduidelik hy, het ook bygedra tot die ontwikkeling van sy gawes.
“Aan die ander kant het my ma nooit gekla wanneer ek of my broer goed in die huis gevat en uitmekaar gehaal het nie. Beide my ouers was baie goeie rolmodelle in daardie opsig,” sê hy glimlaggend.
“Ek was baie aktief in my jonger dae, maar met al daardie oorblywende energie het dit ontaard in stout wees en dit het my ’n baie moeilike student op skool gemaak. ’n Mens sou hoop sport sou bietjie van die energie verminder het, maar dit het nie,” het hy gesê.
[email protected]