Katja sleep vlerk by Brendan Peyper

Kristien Kruger
Die mooie en avontuurlustige Namibiër Katja Pieters is binnekort op die kassie te sien as een van die 16 vroue wat die gewilde Suid-Afrikaanse sanger Brendan Peyper se oog wil vang.
Hy is die middelpunt van kykNET se derde seisoen van die maatsoekreeks Op my eish! wat Donderdag begin.
Katja is die heel eerste Namibiër wat aan dié program deelneem.
“Dit is die eerste jaar wat die inskrywings vir Namibiërs oop was en ek dink dit is omdat Brendan baie lief vir Namibië is,” vertel Katja.
“Hy kom gereeld Namibië toe om te jag of op te tree en ek dink hy het op grond daarvan besef Namibiërs is baie ‘nice’ mense.”
Katja vertel dat sy iemand is wat gretig is om nuwe geleenthede aan te gryp en toe sy sien die inskrywings is oop vir Namibiërs het sy nie op haar laat wag nie.
“Ek het my oë toegeknyp en gesê: ‘Hier gaan ons!’”
Volgens Katja het sy nie gedink dat Brendan haar sou kies nie en was sy geskok toe sy die oproep ontvang dat hy haar graag beter wil leer ken.
“Ek het nooit vir ’n oomblik gedink dat ek sy oog sou vang nie en natuurlik wou ek, soos almal, die man van die uur beter leer ken.”
Die reeks is reeds in September begin verfilm en Katja is tans terug in Windhoek.
“Dit was ’n ongelooflike ervaring en ek het vir mense gewys wie ek as mens is, maar ook wie ons as Namibiërs is.”
Aksiebelaai
Die regisseur van dié seisoen, Jaco Spies, sê op kykNET se webtuiste dat hierdie reeks al sy “stoutste verwagtinge” oortref het.
“Die skilderagtige Oos-Vrystaat verskaf die doek waarteen ’n bitter mooi liefdesverhaal oor 13 aksiebelaaide episodes afspeel. Ons leer vir Brendan ken soos nooit van te vore nie, en die 16 dames wat sy hart probeer wen, sorg vir hope vermaak en intrige,” het Spies gesê.
Volgens ’n plasing op kykNET se webwerf word die hele Oos-Vrystaat in die reeks platgetoer en is dit vol aksie en avontuur met Brendan en die deelnemers wat lugballon ry, visvang, ski, met vierwielmotorfietse rondjaag en selfs agter die stuur van trekkers resies hou.
Die eerste episode word Donderdag om 20:00 op DStv-kanaal 144 uitgesaai met Brendan en dié seisoen se aanbieder, Jo Black, wat deur hordes inskrywingsvideo’s gaan.
[email protected]