Liefde vir syfers open deure vir Namibiese dosent

Mediavrystelling
’n Fassinasie met syfers en ’n voorliefde vir probleemoplossing het ’n stil seun van ’n arm nedersetting in die noorde van Namibië gehelp om ’n gerespekteerde finansiële wiskundige te word wat al van die voorste universiteite in die wêreld besoek en by hulle lesings aangebied het.
Dr Mesias Alfeus, ’n senior dosent in Finansiële Risikobestuur by die Universiteit Stellenbosch (US), is onlangs as ’n plaaslike nodusleier vir ’n wêreldwye platform vir verantwoordelike wetenskap – die InSPiR2eS Sentrum vir Verantwoordelike Wetenskap (IC4RS) aangewys.
Hy het al baie gereis en is ’n lid van die beheerkomitee van die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaarwetenskappe (NITheCS) se Kwantitatiewe Finansies-navorsingsprogram. Alfeus het ook onlangs die Simposium oor Kwantitatiewe Finansies en Risiko-ontleding (QFRA) in Krete, Griekeland bygewoon.
Sy florerende akademiese loopbaan het in die Okadila-nedersetting begin waar hy deur sy oumagrootjie grootgemaak is. “Sy het my van God geleer en ek het kleintyd my lewe aan Hom gegee.”
Hy was ’n stil kind en het dit geniet om saam met sy oumagrootjie ’n tradisionele speletjie, “Owela womanghete” – wat wiskundige denke vereis – te speel. Hoewel wiskunde nie die gewildste vak by die plaaslike skool was nie, het Alfeus daarin uitgeblink en in graad 5 kon hy al graad 7-wikundeprobleme oplos. Teen graad 10 was hy die toppresteerder in wiskunde in die land.
Studies begin
“Ongelukkig het ek te veel tyd aan my wiskunde spandeer en swak gevaar in taal,” erken hy. Sy wiskundige vermoë het gelukkig enige taaltekortkomings oorskadu en hy het aan die einde van sy skoolloopbaan ’n beurs losgeslaan om ingenieurswese aan die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie te gaan studeer. Terwyl hy met sy ingenieurstudie besig was, het Alfeus “wiskundig uitgehonger” gevoel en besluit om ’n BCom-graad in Wiskundige Wetenskappe aan die US aan te pak Hier was Alfeus se gebrekkige taalvermoë egter ’n struikelblok en hy het uit die kursus onttrek.
Maar hy laat hom nie so maklik deur ’n uitdaging afskrik nie en hy het na die Universiteit van Namibië teruggekeer. Terwyl hy daar was, het hy ’n konferensie in Spanje bygewoon – dit was die eerste keer dat hy ’n internasionale vlug onderneem het.
’n Paar jaar ná sy vertrek by die US, is hy genooi om terug te keer vir ’n gesamentlike honneursgraad in finansiële wiskunde by die US, die Afrika-instituut vir Wiskundige Wetenskappe en die Universiteit van Kaapstad.
“Dit was werklik ’n vreugde om terug te keer,” erken Alfeus. Hy voeg by dat die honneursprogram baie uitdagend was en net twee van die oorspronklike agt studente het hulle graad voltooi. Alfeus het egter uitgeblink en sy graad cum laude geslaag en ’n merietetoekenning vir sy tesis ontvang.
Daarna het hy ’n beurs van die Namibiese Owerheid vir Finansiële Instellings (NAMFISA) aanvaar om sy meestersgraad in finansiële wiskunde by die US te doen. Hy het weer eens baie goed gevaar en nog ’n merietetoekenning vir sy tesis ingepalm.
Australië wink
Na ’n vinnige draai by NAMFISA, het Alfeus by die Universiteit van Tegnologie in Sydney (UTS) in Australië aansoek gedoen vir ’n PhD in kwantitatiewe finansies. Hy het UTS gekies danksy die instelling se multidissiplinêre Kwantitatiewe Finansies-navorsingsentrum, verduidelik hy. En dit het aan hom die opwindende geleentheid gebied om in ’n nuwe land oorsee te woon.
Alfeus het goed aangepas in die Christelike gemeenskap naby die universiteit waar hy hom gevestig het en hy het sy PhD in minder as drie jaar voltooi. “Dit was vir my ’n geleentheid om as akademikus te groei.”
Terwyl hy met sy PhD besig was, het hy ’n internasionale toekenning van die Jong Ondersoeker-opleidingsprogram (YITP) ontvang om die XIX-werksessie oor kwantitatiewe finansies by die Roma Tre-Universiteit in Italië by te woon. Hy het ook ’n maand lank navorsing gedoen by die departement wiskunde aan die Universiteit van Padua in Italië.
Daarna is hy ’n volle akademiese pos by die Universiteit van Wollongong in Australië aangebied. Hoewel hy sy tyd oorsee baie geniet het, was dit die liefde wat hom teruggebring het na Suid-Afrika. Hy het in 2019 met sy vrou, ’n uroloog by Groote Schuur, getrou en het die volgende jaar na die US teruggekeer as ’n dosent in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap.
Alfeus, nou ’n senior dosent, is ook die hoof van die NITheCS Kwantitatiewe Finansies-navorsingsprogram.
Koördineerder
“Ek koördineer navorsing in Suid-Afrika, stel beurse beskikbaar aan studente en kweek samewerking met ander universiteite en bedryfsvennote.”
Die doelwit is om praktiese oplossings vir bedryfsverwante uitdagings te vind. Wiskundige modelle kan ontwikkel word om byvoorbeeld die energiekrisis, asook omgewings-, maatskaplike en staatsbestuur-uitdagings (bekend as ESG) te hanteer. Alfeus tree ook as studieleier vir meestersgraad- en PhD-studente op.
Hy is reeds wêreldbekend op sy vakgebied en is ’n NNS-gegradeerde navorser. Sy volgende loopbaandoelwit is om die eerste wêreldkonferensie van die Bachelier Finance Society – ’n organisasie in wiskundige finansies wat aan akademici en praktisyns die geleentheid gee om bymekaar te kom en idees uit te ruil – in Afrika op Stellenbosch aan te bied. “Ek wil verseker dat almal in Suid-Afrika weet wat kwantitatiewe finansies is.”