Marelize Horn en gesin eersdaags op silwerskerm

Nadat Marelize Horn die aandag van Afrikaanse sosialemediagebruikers getrek het toe sy ’n meme op sosiale media geword het, word ’n fliek oor haar en haar gesin by vanjaar se Silwerskermfees in Kaapstad bekend gestel.
Die naam van die fliek, My F** Marelize, is natuurlik heel gepas met verfilming wat vandeesmaand begin.
Die fliek volg die gebeure wat gelei het tot die bekende rugbypaalvoorval en Marelize se voorbereidings om ’n au pair in Nederland te word. Dit terwyl haar ma, Heidi Horn, ’n kankerdiagnose in die gesig staar met die luidrugtige Wika-karnaval in die agtergrond.
Twee Namibiese vervaardigers, Joel en Sophie Haikali van Joe Vision Productions, sal saam met die Suid-Afrikaanse regisseur Zandré Coetzer en die Safta-bekroonde draaiboekskrywer Brett Michael Innes (Sink, Fiela se kind), dié produksie op die silwerdoek aanbied.
Dit is Coetzer se debuut as regisseur vir ’n vollengte fliek nadat sy onder meer aan die reekse “Dinge van ’n kind” en “Donkerbos” gewerk het. Laasgenoemde het vyf Safta-toekennings ingepalm.
“Wanneer mense aan die frase ‘my f**, Marelize’ dink, verwag hulle seker slapstick-komedie oor ’n tiener wat alewig in alles vasloop. Die storie van die Horn-gesin het soveel meer diepte as dit en ons kan nie wag om kykers daarmee te verras nie,” sê Innes.
Coetzer sê: “Hierdie is ’n viering van die lewe. ’n Tentoonstelling van hoe ons mense in Namibië en Suid-Afrika elke uitdaging met ’n grap begroet en dit met humor aanpak.
“Ek was bevoorreg om tyd saam met die Horn-gesin deur te bring en om hul dinamika te aanskou het my ’n duidelike visie vir die fliek gegee. As ’n Afrikaner is dit baie spesiaal om my taal, kultuur en mense te vier in ’n storie wat tot ons humor en manier van lewe spreek.”
"Dié produksie sal ’n opwindende toevoeging tot die plaaslike inhoud wees wat MultiChoice Namibia reeds vir ons DStv-, GOtv- en Showmax-aanbiedinge skep,” het Roger Gertze, die uitvoerende hoof van MultiChoice Namibia, gesê.
“[Die fliek] vier ons eienaardige Namibiese sjarme en ryk gees met baie humor en ons eie geur van Afrikaans. Dit is ’n fliek vir die hele gesin en ons is opgewonde om deel daarvan te wees,” sê Joel Haikali.
“Dit is mal hoe dit aanhou groei! Toe ek verlede jaar ’n Facebook-boodskap van Brett ontvang het oor ’n fliek wat hy oor ons gesin wou maak, het ek nie geweet wat om te verwag nie. Nou gaan hulle begin verfilm en ek kan nie wag om te sien hoe hulle lewe in ons ervarings blaas nie,” sê Marelize Horn.