Ouma Eva vier 100 jaar

Boet Matthews
“My God gee my die krag om op hierdie hoë ouderdom te kan goed doen en te kan bid vir ander. Dat ek nog met sonsopkoms my ogies elke oggend kan oopmaak en deur die vensters die nuwe dag kan aanskou.
“Dinsdag was ’n spesiale dag, want ek het verjaar en die syfer 100 het iewers op ’n koek gestaan. Dit is genade deur ons Hemelse Vader, my kinders, gebede deur pastore en die gemeenskap van Rehoboth wat my deurgedra het,” het Eva Christina Beukes (née Majiedt) met ’n breë glimlag gesê.
Op die vraag of Ouma Eva ouer voel of enige klagtes het, het sy geantwoord: “Nee kind, van wat praat jy! Ek is nog springlewendig en lag te lekker vir kuiergaste se grappe.
“Ek voel nie ’n dag ouer as die 99 wat ek verbygesteek het nie. Inteendeel, die sewe kinders, agt kleinkinders, 22 agterkleinkinders, drie agter-agteragterkleinkinders [vierde geslag] laat my hart vinniger klop en hou my jonk.”
Die Basterkaptein van Rehoboth, Jacky Britz, wat by die eeufeesvieringe teenwoordig was, het gesê: “Die feit dat sy 100 jaar oud is, het vir my die korrekte betekenis van genade beskryf. Wat regtigwaar uitgestaan het, is dat sy die liedere wat daar gesing is se woorde ken en al te jolig saamgesing het.
“Sy het gesange uit die kop voorgesê en dit spreek boekdele. Wat my ook getref het, is dat sy daarop aangedring het dat die koor nie moet ophou sing om die Here te loof en te prys nie.”
Ouma Eva, soos sy nou bekend is, word as een van die oudste Rehoboth Bastervroue geken en sy maak geen geheim daarvan dat sy boonop ’n goeie lewe saam met haar man, wyle pastoor Jakobus Beukes, gehad het nie.
“Hy was ’n juweel en het my op die hande gedra. Ek het hom op Omamas ontmoet toe hy nog in die onderwys was. Ons is op 19 Februarie 1945 in die huwelik bevestig en drie jaar later het ons Rehoboth ons tuiste gemaak.
“Eer jou vader en moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee het,” is Ouma Eva sa raad aan Namibiërs.
Volgens James Yisa, wat al ’n lang pad met Ouma Eva en haar man geloop het, was die Beukes-huis - nommer drie in Blok C - ’n tuiste vir vele kinders van heinde en verre wat warmte en liefde daar ervaar het.