Ouma Lena vier 'n eeu

Henriette Lamprecht
“’n Spreuke 31-vrou, deugsaam en biddend. Dit is Lena Bezuidenhout - ons ma, ouma, oumagrootjie en oeroumagrootjie, wat Sondag haar 100ste verjaarsdag gevier het op Okahandja, waar sy diep spore in die gemeenskap getrap het,” sê haar dogters.
Familie en vriende, waarvan sommige oor landsgrense gereis het, lede van die Okahandja-gemeenskap, die dorp se burgemeester en raadslede asook geestelike leiers van verskillende denominasies het die afgelope naweek saamgetrek om Ouma Lena se verjaarsdag te vier. Sondag is ’n spesiale erediens in die Verenigde Gereformeerde kerk (VGK) aan haar opgedra. Tydens die vieringe het elke kind ’n medalje met ’n spesiale boodskap aan haar oorhandig.
Haar nageslag sluit 13 kinders (waarvan drie reeds oorlede is), 47 kleinkinders, 59 agterkleinkinders en 36 agter-agterkleinkinders in, met baie van haar klein- en agterkleinkinders wat bevoorreg was om onder Ouma Lena se hand groot te word.
Sy is op 11 Junie 1923 op ’n plaas in die omgewing van Aroab gebore. Sy was die oudste van sewe susters en het as ‘n jong meisie in die bakkery gewerk wat haar pa bestuur het. Buiten vir bak en brou, het Ouma Lena ook die boeke gedoen, hoewel sy nie self geleerdheid gehad het nie. Haar ma is doofstom gebore en Lena het later die bestuur van die huishouding oorgeneem.
Op 2 November 1945 is Ouma Lena met Adriaan Bezuidenhout getroud, met 13 kinders wat uit die huwelik gebore is. Die Bezuidenhout-egpaar het hulle in die Rehoboth-distrik gevestig en weens Oupa Adriaan se werk op verskillende plase gewoon. ’n Eie boerdery het gevolg, met Ouma Lena wat as bestuurder ingestaan het as haar man se werk hom van die huis af sou wegneem. So het sy en haar oudste seun, Paul, gereeld self ingespring om te gaan soek na ’n bok of skaap wat weggeraak het. Droogte en diefstal het egter ’n einde aan die boerdery gebring en in 1957 trek die Bezuidenhouts en hul agt kinders na Okahandja, met die laaste drie kinders wat daar gebore is. Oupa Adriaan was ’n bouer wat die besigheid Bezuidenhout Bouers op die been gebring het, met sy seuns en kleinkinders wat ook later deel geword het van die boubedryf op Okahandja. Hulle was ook die eerste bouers wat die munisipale huise in Nau-Aib gebou het, met baie van die eiendomme op die dorp wat danksy Bezuidenhout Bouers die lig gesien het. Haar seun, Andries, het ook die destydse NG Kerk, vandag die VGK, op die tuindorp gebou. As oudste moeder van die kerk het Ouma Lena ook die voorreg gehad om saam met wyle ds. George Hugo die lint te knip met die inseëning van die kerk.
Die egpaar sou later hulle huis vir kantoorruimte aan Swapo afstaan, wat dit tot vandag by Eric, hulle jongste seun, huur.
Die egpaar het later jare by hul seun en sy vrou, Paul en Lena, op hulle plaas in die Gobabis-distrik gaan woon - waar Oupa Adriaan in Mei 1989 gesterf het. Ouma Lena het teruggekeer na Okahandja waar sy om die beurt by van haar kinders gebly het. Vandag bly sy by Andries en sy vrou, Valerie, in ’n woonstel saam met ’n oppasser wat na haar omsien.
Op haar geseënde ouderdom is dit net Ouma Lena se gehoor wat soms nie goed is nie, maar haar geheue is nog skerp en sy herken en onthou almal wat haar besoek en selfs haar troudatum dekades gelede!
[email protected]