Vroue maak bushalte mooi

Henriette Lamprecht
’n Groep vlytige vroue van die Namibiese Vrouevereniging (NVV) se Lekkerlag-tak het met verf en kwaste ingespring om ’n bushalte in Windhoek te verfraai.
Volgens Celine Rust is die nuwe baadjie vir die bushalte in Coetzeestraat in Pionierspark die tak se deel ter ondersteuning van die NVV se projek vir vanjaar onder die vaandel “Bewaar, Bewoon, Bewerk”.
Buiten vir Celine het Adele Bocking, Linda Honnibal, Yvonne Maree, Mariaan Wessels en Jennifer Vermeulen op Afrikadag hand bygesit met die teken- en verfwerk.
“Ons het prentjies gegoogle en dit op die bushalte geteken. Elkeen het ’n paneel gehad wat sy ingekleur het en ons was die oggend al klaar. Van ons skilder self en daar is ook ’n grafiese kunstenaar onder ons groep,” vertel Celine.
Die NVV, die “ou Namibiese boerevereniging” doen baie goeie goed, sê sy.
Verlede jaar het die tak onder meer kos en klere ingesamel vir ’n tydelike tuiste vir babas wat in Pionierspark geopen het. Die vroue het ook seep gemaak en Red Velvet-koeke gebak wat vir kompetisies ingeskryf word. Een van die kompetisies vir vanjaar is om ’n kwilt wat met die vrye hand gemaak is as ’n muurbehangsel in te skryf, terwyl die vroue ook hul slag moes wys in die bak van croissante.
Jy hoef nie deel te neem aan die kompetisies as jy nie wil nie, verduidelik Celine.
“Dit is nie verpligtend nie, dit gaan daaroor dat ons nuwe goed leer. Ons wil graag hê jong lede moet aansluit om die tradisies voort te sit.”
Celine het namens die Lekkerlag-tak ’n uitdaging aan ander takke gerig om ook hul omgewings te verfraai.
Vir meer inligting oor die NVV en hul doen en late of vir moontlike skenkings om nog bushaltes op te knap, kan Celine by 081 128 8447 gekontak word.