Agra kroon speenkalfwenners

Elvira Hattingh
Agra het die wenners van sy 12de speenkalf-kampioenskapsreeks op 20 Oktober by die Weinberg Hotel aangewys.
Tydens die geleentheid is drie nasionale kampioene gekroon in die kategorieë vir voerkraalpotensiaal, veldpotensiaal en teelverse.
Joachim Cranz is vanjaar as Agra se nasionale wenner in die kategorie vir voerkraalpotensiaal aangewys, met Waldo Lottering wat die wenner in die veldpotensiaal-kategorie is. Eandro Lottering is as die nasionale wenner in die kategorie vir teelverse gekroon.

DIE KAMPIOENSKAP
Agra se speenkalf-kampioenskapsreeks, wat op 18 Julie 2023 begin het, strek oor ’n tydperk van drie maande.
Tydens die reeks is daar altesaam 20 veilings in alle kommersiële beesproduserende gebiede in die land gehou. Altesaam 12 340 speenkalwers is verkoop – meer as verlede jaar se 11 767.
Grootfontein is die streek wat vir die meeste speenkalwers gesorg het – altesaam 2 298 – gevolg deur Gobabis met 2 045, Otjiwarongo met 1 236 en Aroab met 913.
Die hoogste pryse van onderskeidelik N$41,74/kg vir tollies en N$42,13/kg vir verse is vanjaar op Otjiwarongo betaal.
Agra sê die paneel beoordelaars het bestaan uit bekendes in die landboubedryf, wat insluit Christo van Zyl, Lourens Swart, Norbert Neumann en Danie de Lange van Feedmaster, asook Agra se Paul Klein, Herman Lintvelt en Fanie Cronjé.

KOMMUNALE GEBIED
Produsente uit verskeie kommunale gebiede, insluitend Okakarara, Aminus, Okondjatu en Talismanus het ook aan die kompetisie deelgeneem.
Agra het, in samewerking met Bank Windhoek, ’n unieke program bekendgestel vir hierdie ontluikende produsente.
Dienooreenkomstig sal daar op 8 November ’n spesiale gemeenskapsopleidingsdag op Gobabis aangebied word. Daarna sal ’n toekenningsgeleentheid gehou word waartydens die beste kommunale produsente in bogenoemde kategorieë aangewys sal word.
Agra sê sy speenkalfkampioenskap dien as ’n noodsaaklike ekonomiese stimulus vir Namibië se beesbedryf en bied aan produsente die unieke geleentheid om hul produksiestandaarde met die van hul eweknieë te vergelyk.
[email protected]