Agri-Xtra maandeinde op Grootfontein

Die voortsetting van ‘n ou tradisie
Op 26 Mei 1912 is die eerste landbouskou op Grootfontein aangebied, wat die Agri-Xtra 'n voortsetting van 'n langdurige tradisie maak.
Die Grootfontein Skouvereniging bied tussen 24 en 26 Mei Agri-Xtra aan – landboudae waartydens ‘n bees-, kleinvee- en perdeskou gehou sal word, terwyl verskeie landboupraatjies ook tydens die geleentheid aangebied sal word.
Buiten vir verskeie landbou-uitstallers wat as trekpleister vir die publiek sal dien, sal kleinvee ook te sien wees, met Feedmaster se Markus du Plessis wat oor pluimveeboerderye sal gesels.
Ander items op die sprekersprogram sluit in ‘n Vleisdag, aangebied deur die Grootfontein Boerevereniging, jongboere wat bywoners sal toespreek oor hul nuwe inisiatiewe asook 'n praatjie deur die Houtskoolvereniging van Namibië (CAoN) se algemene bestuurder, Michael Degé.
Daarbenewens word ‘n aand van vermaak op die 25ste aangebied, met die sanger CeeJay wat besoekers tot laataand op die dansbaan sal hou, terwyl kindervermaak ook deurlopend aangebied sal word.

TRADISIE
Volgens die skouvereniging se president, Nita Pretorius, is hierdie landboudae ‘n “eeue oue tradisie” wat met trots voortgesit word.
“Op 26 Mei 1912 is die eerste landbou-tentoonstelling op Grootfontein aangebied. Wanneer ‘n tradisie so lank behoue gebly het, mag ons dit nie laat verlore gaan nie,” het Pretorius gesê.
Sy hou die leisels by een van die min skouverenigings in die land met 'n vrouepresident.
“Agri-Xtra is nuut en gebore uit ‘n hartsbehoefte van ons boere: Om hul spogdiere meer blootstelling te gee, om die fokus terug te skuif na boerdery en om ‘n geleentheid te skep waar kundiges opleiding kan gee - waar nuwe boerdery-moontlikhede en metodes ondersoek kan word en waar opkomende, jong boere betrek kan word,” het sy verduidelik.
Pretorius, wat self saam met haar man boer, sê die uitdagings waardeur landbouers daagliks in die gesig gestaar word, is enorm.
“Die speelveld verander jaar ná jaar en slegs wanneer ons teruglees in die geskiedenis, net dan kan ons werklik weet hoeveel moed dit verg om elke dag opnuut aan te pak.”

EERSTE PROBEERSLAG
Pretorius sê dit is die eerste keer dat die skouvereniging die Agri-Xtra aanbied. “Ek verseker u dat dit met inisiatief, trots en harde werk aangebied word. Die uitdagings is baie, maar vir die hier en nou het ons baie dankbaarheid en sien ons uit om u op ons gronde te verwelkom,” het Pretorius gesê.
Sy het die geleentheid se borge, uitstallers, boere en vertoners, die skoukomitee en die publiek hartlik bedank vir hul insette.
Vir meer inligting kan die Grootfontein Skouvereniging se Facebook-groep gevolg word.