Akkerbouproduksie af met 60,1%

Dadels presteer in uitvoermark
Die akkerbousektor se totale produksie het van 55 036 ton in die tweede kwartaal van 2022 na 21 953 ton in die ooreenstemmende tydperk van dié jaar afgeneem.
Elvira Hattingh
Namibië se akkerbouproduksie het tydens die tweede termyn van vanjaar 21 953 ton beloop – heelwat minder as die 55 036 ton wat in die ooreenstemmende tydperk in 2022 geproduseer is.
Witmielieproduksie het die hoogste volumes van sowat 21 648 ton gehandhaaf, wat sowat 98,6 % verteenwoordig van dít wat in die tweede kwartaal van 2022 produseer is.
Dit volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA) se landbouverslag vir die tweede kwartaal van 2023 wat onlangs uitgereik is.
Die akkerbousektor se totale produksie het met 60,1% gedaal – van 55 036 ton in die tweede kwartaal van 2022 tot 21 953 ton in die tweede kwartaal van 2023. Dié afname is onder alle gewasse waargeneem – met witmielieproduksie wat ’n inkrimping van 60,4% ervaar het, koring 54,5% en mahangu 11,9%.
Soortgelyk aan die situasie in 2022 het witmielies algehele graanproduksie oorheers met die 21 648 ton wat geproduseer is, terwyl 295 ton mahangu geproduseer is en net sowat 10 ton koring.
Die totale waarde van akkerbouprodukte wat tydens die tweede kwartaal van dié jaar ingevoer is, staan op sowat N$299,2 miljoen, in vergelyking met N$471,3 miljoen in die ooreenstemmende tydperk in 2022. Sowat N$171,9 miljoen se koring is ingevoer, N$121,2 miljoen se witmielies en graan ter waarde van N$3,3 miljoen.
Koring is hoofsaaklik vanaf Suid-Afrika en Pole ingevoer (onderskeidelik N$155 miljoen en N$142 miljoen).
GROENTE, VRUGTE
Tydens die tweede kwartaal van 2023 is sowat 4 377 ton groente en vrugte plaaslik geproduseer – minder as die 5 055 ton in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Plaaslik geproduseerde aartappels het aankope gedomineer teen sowat 1 318 ton, gevolg deur uie waarvan sowat 1 216 ton plaaslik aangekoop is. Tamaties, botterskorsies en kool tel ook onder die topvyf varsprodukte wat in die tydperk plaaslik verbou en gekoop is waarvan onderskeidelik 467 ton, 446 ton en 357 ton in Namibië gekoop is.
In die tweede kwartaal van 2023 was dadels die tuinbouproduk wat die meeste buitelandse valuta, met behulp van uitvoere, vir Namibië verdien het. Sowat N$25,8 miljoen is die land ingebring, terwyl tamaties en groentesaad onderskeidelik ook N$3,3 miljoen en N$1,4 miljoen uit die buiteland verdien het.
As dit by invoere kom, domineer aartappels weereens dié mark met sowat N$17,2 miljoen van dié produk wat tydens die tweede kwartaal vir plaaslike verbruik ingevoer is. Appels en uie is die tweede meeste ingevoer en die invoerrekening staan op onderskeidelik N$8,7 miljoen en N$7 miljoen.
[email protected]