Alternatief tot chemiese kunsmis ondersoek

Navorsers fokus op vermikompos
Min Namibiese ondernemings het tot dusver die mark vir vermikompos op 'n kommersiële basis betree, wat beteken landbouers het nie werklik toegang tot die hulpbron nie.
Elvira Hattingh
Terwyl vermikompos ’n ekonomies lewensvatbare, veilige en omgewingsvolhoubare alternatief tot chemiese kunsmis in landbouproduksie blyk te wees, staan die bedryf in Namibië nog in sy kinderskoene.
Dit aldus drie navorsers wat vroeër vanjaar ’n artikel getiteld “Vermikompos as ’n moontlike oplossing vir probleme met onvrugbare grond en grondverryking in die semi-woestyngebiede van Namibië”.
Luidens die navorsingartikel deur die Ugandese navorser Selma Nghituwamhata en die Universteit van Namibië (Unam) se Lydia Horn en Laimi Ashipala beskik Namibië tans nog oor min ondernemings wat dié mark op kommersiële basis betree en is daar talle ongepubiseerde navorsingswerke oor dié onderwerp.
“As gevolg hiervan het talle Namibiese landbouers nie toegang tot die produk nie en kan hulle ook nie die nuwe tegnologie en die voordele wat dit bied om landbouproduksie te verhoog terwyl dit ook die omgewing bewaar, geniet nie.
CHEMIESE KUNSMIS
Volgens die navorsers is swak of onvrugbare grond ’n groot uitdaging vir landbouproduksie in Namibië – ’n droë land met lae reënvalsyfers en temperature wat dikwels uiterstes bereik.
“Onvrugbare grond veroorsaak dienooreenkomstig dat landbouprodusente hulle dikwels tot chemiese kunsmis wend om produksie te kan verhoog,” lui die artikel.
“Die nadeel hiervan is egter dat die gebruik van kunsmis verband hou met die teenwoordigheid van swaar metale in produksie, wat beteken die produkte is minder gesond as byvoorbeeld produkte waarvoor organiese kunsmis gebruik is.
“Daarbenewens veroorsaak kunsmatige, chemiese kunsmis dat voordelige organiese komponente in die grond doodgaan – dit vernietig die natuurlike vrugbaarheid van die grond en verswak die gewasse se natuurlike weerstand. Terselfdertyd verhoog dit kwesbaarheid vir plae en peste.”
VERMIKOMPOS
Die navorsers sê vermikompos hou talle voordele in, buiten dat dit die struktuur van die grond vir plante verbeter. “Dit verbeter ook die vrugbaarheid van die grond en help dit om water beter te behou. Verder help dit met die ontkieming en groei van plante, terwyl dit ook oeste verbeter. Dit bied ook groeihormone vir plante in die grond,” sê hulle.
Wetenskaplikes ontdek wêreldwyd op ’n toenemende basis dat vermikompos ’n ekonomies lewensvatbare, veilige en omgewingsvolhoubare alternatief tot landbouchemikalieë soos kunsmis is.
Vermikompos word geproduseer met behulp van erdwurms. Hul organiese mis word saam met organiese materiaal soos plantreste gebruik.
Die navorsers meen dit is nodig dat Namibië meer navorsing oor die produk doen sodat beter bewustheid oor vermikompos geskep kan word. Dit kan plaaslike produksie verbeter en terselfdertyd die omgewing bewaar.
Die navorsers fokus verder op hoe boere vermikompos op klein- en groot skaal kan benut, asook watter navorsing en werk daar tans in terme van dié mark gedoen word.
- [email protected]