Benoemings vir Wildboer van die Jaar nou oop

Verskeie kategorieë
Persone wat benoem word, moet ten minste vir vyf jaar lank reeds aan die stuur van 'n wild-onderneming staan en 'n WRN-lid wees.
Elvira Hattingh
Daar is tot 30 Junie ‘n geleentheid om kandidate vir Wildlife Ranching Namibia (WRN) se jaarlikse Wildboer van die Jaar-toekenning te benoem, met verskeie kategorieë waarin wenners gekies sal word.
Dit sluit in toekennings vir Wildboer van die Jaar; die Groen-ekonomie-toekenning; ‘n toekenning vir biodiversiteit en maatskaplike verantwoordelikheid asook die Wildteler van die Jaar.
Die wenner van die WRN Wildboer van die Jaar sal in Suid-Afrika meeding vir die titel van Wildlife Ranching South Africa (WRSA) se Wildboer van die Jaar-titel – ‘n baie gesogte prestasie en die rede waarom WRN alle wildboere wat aan die vereistes voldoen, wil motiveer om aan die kompetisie deel te neem.
Nominasievorms is beskikbaar op die WRN se webwerf (by www.wrnam.org/gamerancheroftheyear) en voltooide vorms kan via e-pos by [email protected] ingedien word.
Persone wat benoem word, moet ten minste vir vyf jaar lank reeds aan stuur van ‘n wild-onderneming staan, ‘n gepaste onderneming bestuur en ‘n WRN-lid wees.
Hier volg die vereistes vir benoemings in elke kategorie:
GROEN-EKONOMIE
Die kandidaat moet ‘n rolmodel wees en in die wildsektor betrokke wees; ‘n suksesvolle, selfonderhoudende plaas hê met ‘n sterk fokus op die volhoubare benutting van al die hulpronne en geleenthede van die plaas asook bewaring bevorder.
Verder moet die persoon sy- of haar onderneming bestuur en in alle moontlike sektore bevorder - wat insluit teling, jag, ekotoerisme, vleis- en leerprodukte. Daar moet ook sterk klem op ekonomiese opbrengste binne al die fasette van die onderneming geplaas word en die persoon moet daarna streef om ‘n optimale waardeketting te vestig.
BIODIVERSITEIT EN MAATSKAPLIKE VERANTWOORDELIKHEID
Kandidate vir dié toekenning moet ‘n rolmodel wees wat betrokke is in die wildbedryf; ‘n suksesvolle, selfonderhoudende plaas bestuur en fokus op gemeenskapsbetrokkenheid, asook transformasie en ontwikkeling.
Die klem moet val op die volhoubare benutting en bewaring van diere, plante, mense en water. Terselfdertyd moet opleiding van werknemers en ondersteuning aan die groter gemeenskap ’n fokuspunt wees.
WILDTELER VAN DIE JAAR
Benoemdes vir die toekenning moet ‘n rolmodel wees wat betrokke is in die wildbedryf; ‘n suksesvolle, selfonderhoudende plaas bestuur en ook betrokke wees in navorsing. Die wenner sal oor uitstekende rekordhoudingsvermoë beskik asook sy/haar kudde en veld doeltreffend kan bestuur.
Die persoon moet verbeterde teelresultate bevorder en beoefen en gesogte diere van ‘n goeie gehalte aan die mark verskaf.
WILDBOER VAN DIE JAAR
Nominasies vir dié kategorie is vir wildboere wat ‘n rolmodel vir alle ander wildboere asook voornemende wildboere in die wildbedryf is; ‘n suksesvolle en selfonderhoudende plaas bestuur wat staatmaak op die prinsiepe van volhoubare benutting en uitstekend vaar in al die volgende kategorieë: teling, ‘n groen ekonomie, biodiversiteit, maatskaplike verantwoordeliheid asook bedryfs- en gemeenskapsontwikkeling.
Die wenner van die WRN Wildboer van die Jaar sal deurdring om met Suid-Afrikaanse eweknieë te gaan meeding.