
Mnr. Kapule Samunzala uit die Zambezi-streek is as die beste mielieprodusent van die jaar aangewys. Hy het 1,65 ton per ha afgehaal op die 60 ha wat hy geplant het – die hoogste in sy streek. Van links op die foto is die NAB se mnre. Michael Iyambo en Hubertus Hamm, dan Samunzala en die NAB se uitvoerende hoof, dr. Fidelis Mwazi. Guillaume Steenkamp in die Karst-gebied is as die ontluikende mielieprodusent van die jaar aangewys en Mulele Simunja van die Zambezi-streek was die beste jongprodusent van die jaar. NamibMills is as die beste graanprosesseerder van die jaar aangewys en Opoto Mills as die beste ontluikende graanprosseseerder. Namibia Zamseed is die beste akkerbou diensverskaffer van die jaar. FOTO’S ELVIRA HATTINGH

Eric von Druten is as die beste tuinbou produsent van die jaar aangewys, met Charith Goaises as die beste ontluikende produsent van die jaar. Van links is Iyambo, die Grootfontein-raadslid Victor Shandjuka, Grootfontein se burgemeester Talitha Garises, Von Druten, Christie Mentz van die Nasionale Tuinbou Advieskomitee (NHAC) en Mwazi. Augustinus Proto is as die beste jong tuinbouprodusent van die jaar gekroon en Green Crisp Farming is die mees innoverende tuinbouprodusent van die jaar. Die groothandelaar Namibia Fresh Produce Market is as die beste tuinbouhandelaar van die jaar aangewys. Choppies Supermarket is as die ontluikende landbouhandelaars van die jaar gekroon. Sonop Farms is die beste tuinbou uitvoerder van die jaar en InteliGrow die beste tuinbou diensverskaffer van die jaar. Die Oshinamumwe Gekombineerde skool het die prys vir die beste skool groentetuin verower.

Saara Ndjato uit die Oshikoto-streek is as die beste mahangu produsent van die jaar aangewys. Sy het altesaam 23 ha mahangu geplant en ‘n halwe ton per ha geoes. Van links is Iyambo, dan Ndjato, Hamm en Mwazi. Die ontluikende mahangu produsent van die jaar is Herman Amunkete van die Omusati-streek wat 12 ha geplant het en ook ‘n halwe ton per ha geoes het. Maria Nangolo van die Oshana-streek is as die mees innoverende mahangu-produsent van die jaar aangewys.