Blink toekoms vir biomassabedryf

Produsente gemaan oor onvolhoubare oeste
Die Standard Bank Biomassa-skou en -konferensie 2024 is onder die tema "Innovating for a greener future" op Otjiwarongo aangebied.
Francoise Steynberg
Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, sê die grootste uitdaging wat die bosboudepartement in sy ministerie met kommer opgemerk het, is die onvolhoubare oes van boshulpbronne, veral die oes van groot boomstamme, meer hout wat geoes word as wat die oespermit toelaat, oes in rivierbeddings en sonder permitte.
Shifeta se toespraak is Donderdag deur die goewerneur van die Otjozondjupastreek, James Uerikua, op die amptelike opening van die Standard Bank Biomassa-skou en -konferensie 2024 voorgelees wat onder die tema “Innovating for a greener future” op Otjiwarongo aangebied is.
“Ons ministerie is bewus van die talle uitdagings wat boere ervaar soos vertragings met die uitvoer van plaasinspeksies, die uitreiking van permitte en die nienakoming van die bepalings van die wet op omgewingsbestuur.
“Die regering is gretig om hande met die rolspelers in die bedryf te vat om te verseker dat die bosbiomassa-hulpbronne op ’n verantwoordelike wyse ontgin word om beide veldherstel te bewerkstellig, terwyl omgewingswelstand beskerm word,” het Shifeta gesê.
Hy het ’n beroep op produsente gedoen om op te hou om betrokke te raak by neigings wat teenproduktief is wat die bloeiende sektor sal benadeel.

AANLYN PERMITSTELSEL
Shifeta het erken die aanlyn permitstelsel wat sy ministerie nou wou implementeer, het tot stilstand gekom weens stelselontwikkelingskwessies.
Hy sê om hierdie uitdagings te takel, kyk die ministerie na ’n aantal inisiatiewe soos die werwing van meer personeel, die verskaffing van vervoer en die hervorming van permitstelsels.
Die ministerie het ook die Bos- en Omgewingsbestuursplan vir plase ingestel.
“Hierdie plan het ten doel om omvattende data van ’n gegewe grondeenheid, beskikbare toelaatbare biomassa, huidige biomassagebruike sowel as omgewingsparameters vas te lê, en sal daartoe lei dat die aansoeker die Omgewingsklaringsertifikaat (ECC) en ’n oespermit sal ontvang.”

GROEI
Shifeta het die Namibia Biomass Industry Group (N-BiG) en Houtskoolvereniging van Namibië (CAoN) geloof wat die afgelope jare gegroei het en die sektor professioneel verteenwoordig en belangrik ook ’n baie positiewe verhouding met die ministerie handhaaf.
“Dit is ’n vennootskap wat ons verder tot voordeel van Namibië se landelike bevolking wil benut, namate volhoubare bosbenutting aanhou groei.”
Shifeta glo dat die tema kollektiewe verantwoordelikheid insluit om positiewe verandering deur innoverende oplossings te dryf.
“Innovasie was nog altyd ’n kragtige dryfveer van vooruitgang en vandag is dit meer kritiek as ooit in ons stryd teen omgewingsuitdagings.
“Van klimaatsverandering tot verlies aan biodiversiteit en uitputting van hulpbronne, die impak is groot, vandaar die behoefte om innoverende benaderings te hê wat ons na ’n volhoubare toekoms kan lei,” het hy gesê.
“Die tema spoor ons aan om innoverende oplossings te verken wat ekonomiese, maatskaplike en omgewingsoorwegings integreer, wat ons na ’n groener en meer veerkragtige wêreld lei.”
Die ministerie is tevrede met die beduidende groei in die biomassasektor in die onlangse verlede.
“Volgens die Europese Kommissie het Namibiese vuurhout- en houtskooluitvoer na bewering 51 miljoen euro in 2023 opgelewer.”
Dit was ’n ongelooflike jaar vir die sektor,” het Colin Lindeque, die raadsvoorsitter van N-BiG beklemtoon.
“In 2023 het Namibië 270 000 ton houtskool ter waarde van N$1,3 miljard uitgevoer.

NAMPOWER-AANLEG
Titus Haihambo, NamPower se projekingenieur, het die biomassa-aanleg van 40 megawatt bespreek wat die kragvoorsiener besig is om naby Tsumeb te bou.
Die boukontrak vir die belegging van N$2,3 miljoen is toegeken en word beplan om in 2027 kommersieel operasioneel te wees.
“Hierdie projek sal indringerboshoutskyfies gebruik en tussen 180 000 en 245 000 ton indringerbos per jaar benut,” het Shifeta gesê.
“Bosindringing bied steeds uitdagings op meer as 45 miljoen hektaar, wat moontlik sowat 1,5 miljard ton biomassa kan genereer. Hiervan kon 30% volhoubaar geoes word.
“Tot op hede word nagenoeg twee miljoen ton biomassa elke jaar geoes, wat duisende werksgeleenthede vir ons mense bied.”
Shifeta sê as ons hierdie hulpbron goed oppas, is ons verseker dat ons dit nog lank sal kan benut.
“Alhoewel bosindringing ook landelike gebiede raak, het ons gemeenskappe nie aan bosbeheeraktiwiteite deelgeneem nie en nie voordele uit die biomassa-hulpbronne soos hul eweknieë getrek nie.
Die bosboudirekteur, Johnson Ndokosho, het die Bestuursraamwerk en Bestuurstelsel vir Volhoubare Bosbeheer in gekose kommunale gebiede van Namibië bespreek wat binnekort bekend gestel sal word.
“Hierdie raamwerk sal ’n inklusiewe benadering inlui wat boswaardekettinggeleenthede sal ontsluit in gekose landelike gebiede wat deur bosindringing geraak word.”

CAoN
CAoN-lede het Vrydagoggend tydens hul jaarvergadering hul uitdagings en toekomsplanne bespreek.
Twee nuwe bestuurslede is gekies, naamlik Paul Laas as produsent en Reino du Toit van die Unifoods-houtskoolfabriek wat die prosesseerders sal verteenwoordig.
Hulle sluit aan by die oudbestuurslede met Koos Briedenhann as voorsitter, De Wet Mouton, Kai-Dieter Rumpf, Stephan Bezuidenhout en Danie van Vuuren van die Namibië Landbou-unie (NLU).
Stanley, Steven en Natasha McLoud van Roeperfontein het die sertifikaat van waardering ontvang.
[email protected]