Blink toekoms vir tafeldruiwe
NGC het aandeel van 51%
Dié gesogte Namibiese produkte is nou in 35 internasionale markte beskikbaar.
Met nuwe aanplantings, verbeterde infrastruktuur, internasionale marktoegang en beste boerderypraktyke, het die Namibia Grape Company (NGC) by Aussenkehr daarin geslaag om tafeldruiweproduksie van 1,4 miljoen kartonne in 2007 tot 2,4 miljoen kartonne in 2024 te verhoog, ’n fenomenale toename van 71%.Dit is volgens Capespan se besturende direkteur, Charl du Bois, tydens die ondertekening van die verlenging van hul kontrak met 20 jaar tot 2045, by Standard Bank Namibia se hoofkantoor in Windhoek.
Hy het Capespan se diep wortels in die Suider-Afrikaanse tafeldruiwebedryf beklemtoon.
“Deur ons internasionale netwerk het ons NGC verbind met toonaangewende internasionale markte, wat verbruikers in meer as 35 lande in staat stel om hierdie heerlike druiwe uit die Namibiese woestyn te geniet," het hy gesê.
Du Bois het Capespan se verbintenis uitgespreek om hierdie geleenthede en verskepings deur die Walvisbaaise hawe uit te brei en hul impak op die plaaslike ekonomie te versterk.
WERKSKEPPING
Richwell Lukonga, die voorsitter van NGC, het gesê die vennootskap bied ’n geleentheid om finansiële druk te oorkom, ’n vorm van volhoubaarheid te bereik en broodnodige werk te skep, beide permanent en seisoenaal.
“NGC en sy aandeelhouer, Namibia Youth Service, streef egter daarna om ’n groter impak en voordeel vir Namibië en Namibiese besighede te skep. Die direksie van NGC en Capespan het ’n hersiening en verandering in die model en vennootskap sedert 2020 bespreek waar die partye ooreengekom het op ’n modaliteit vir ’n nuwe vennootskap,” het hy gesê.
Die sleutelbeginsels waaroor ooreengekom is vir die gesamentlike onderneming (JV) tussen NGC en Capespan het ten doel om ’n gebalanseerde verdeling van risiko en beloning daar te stel, om billike deelname van beide partye te verseker. Onder hierdie beginsels sal eienaarskap van die JV verdeel word met ’n 51%-belang wat deur NGC gehou word en Capespan met ’n 49%-belang.
Boonop sal die huurkoste of gewaarborgde wins vir NGC tot N$17 miljoen per jaar styg, met ’n jaarlikse eskalasie van 3,5%, wat finansiële stabiliteit oor ’n tydperk van 20 jaar bied.
NGC sal die boerdery se kapitaalbestedingsvereistes dek, eweredig aan die JV-persentasie, terwyl beide NGC en Capespan die jaarlikse bedryfskapitaalbehoeftes sal deel, insluitend enige verliese wat aangegaan is.
Capespan sal baat by ’n langtermynbemarkingsooreenkoms vir die vrugte wat deur die JV geproduseer word, onderhewig aan hersiening elke vyf jaar, het Lukonga bygevoeg.
Hy het NGC se verbintenis tot verdere uitbreiding en om ’n hoë standaard vir Namibiese landbou op die wêreldtoneel te stel, beklemtoon.
Lukonga het ook beter behuising aan tafeldruifwerkers by Aussenkehr belowe, veral nadat hul riethuise al telkemale deur brande verswelg is.
JUWEEL
“Hierdie openbare-private-vennootskap het met verloop van tyd veerkragtigheid en sukses getoon en homself as ’n ware juweel in die Namibiese landboubedryf gevestig,” het Erwin Tjipuka, die uitvoerende hoof van Standard Bank Namibia, gesê.
“Deur hierdie samewerking speel die Namibiese regering, deur die Namibia Grape Company, ’n deurslaggewende rol in die opheffing van plaaslike gemeenskappe deur werk te skep en Namibies-verboude druiwe na die internasionale mark te bring. Hierdie vennootskap beklemtoon ons verbintenis tot die bevordering van volhoubare groei en bied met trots die positiewe impak waarna ons streef om oraloor Namibië te maak,” het hy bygevoeg.
Die minister van sport, jeug en nasionale diens, Agnes Tjongarero, het gesê hierdie samewerking versterk nie net Namibië se teenwoordigheid in die wêreldmark nie, maar bring ook betekenisvolle indiensneming en ontwikkeling aan gemeenskappe, wat die byna 2 000 seisoenale en voltydse werkers insluit.
“Ek is ook bly om kennis te neem van die klem op maatskaplike verantwoordelikheid binne hierdie ooreenkoms. Die verbintenis om die Aussenkehr-gemeenskap sowel as ons jeug te ondersteun deur die onmiddellike aandeelhouer, die Namibia Youth Service, is prysenswaardig,” het sy gesê.
Oestyd skop vandeesweek by Aussenkehr af.
– [email protected]