Blink toekoms wink vir Savanna Beef

Aandeelhouers is positief
Global Protein Solutions (GPS) van die Verenigde Koninkryk het reeds belangstelling getoon om al SBPL se produksie te koop.
Francoise Steynberg
Beesvleisprodusente is opgewonde oor Savanna Beef se beesvleisverwerkingsaanleg suid van Okahandja se voltooiingsdatum vir konstruksie wat steeds vir 12 Junie 2025 beplan word.
Boer Issaskar Tjeenao van die plaas Otjzondaambe in die Otjituuo-gebied suidoos van Grootfontein het tydens ’n toer van produsente, aandeelhouers en media verlede week by die konstruksieterrein gesê die toekoms vir beesprodusente by Savanna Beef lyk blink en belowend.
“Ek is baie gelukkig met die finansiële state, die vordering van die konstruksie van die infrastruktuur en die bemarkingsprosesse,” het hy tydens ‘n onderhoud aan Agri Monitor gesê.
“Ek is baie positief. Die toekoms is in ons hande as produsente en aandeelhouers.”
Nexus Namibia staan aan die stuur van die konstruksie van die ultra-moderne projek ter waarde van N$458 miljoen. Cobus Posthma, die projekbestuurder van Posthma Projects & Construction vir Nexus, het bevestig die sperdatum van 12 Junie 2025 sal gehaal word. Hy het gesê hy is self ’n boer en sal die gulde geleentheid aangryp om aandele te bekom.
Meer as 700 boere het reeds N$193,5 miljoen se aandele in Savanna Beef bekom in die projek wat reeds drie en ’n half jaar aan die gang is.
Posthma en ander beesvleisprodusente se geleentheid om aandele te bekom is op die jaarvergadering van die lidmaatskaporganisasie die Forum vir Beesvleiswaardeketting (BVCF) op 21 Augustus in Windhoek bevestig met die aanbod vir nog N$6,5 miljoen se aandele wat beskikbaar gestel is. Dit sal boere se ekwiteit op N$200 miljoen te staan bring. Aandele is beskikbaar in bondels van N$4 000 elk vir voorkeurverslagting.

AANDELE
Aandele kan deur Cirrus Capital bekom word by [email protected] met groot verteenwoordigheid van die span op die toer deur die indrukwekkende terrein.
Savanna Beef Processors Limited (SBPL) is deur die BVCF gevestig met die doel om die operasionele aktiwiteite van die abattoir en prosesseringsgeriewe oor te neem.
SBPL as die beheermaatskappy (waarin produsente-aandeelhouding gevestig is) het wel ná verlede jaar se algemene jaarvergadering ’n filiaalmaatskappy Savanna Beef Operations (SBO) – met 100%-aandeelhouding deur SBPL – verkry. Alle operasionele besighede van die beesvleisverwerkingsaanleg sal nou deur die filiaalmaatskappy SBO bedryf word. Die bestuursooreenkoms tussen die BVCF en SBPL is gedurende die afgelope jaar hersien om SBO in te sluit.
Volgens die bekende stoetboer van Grootfontein en voorsitter van die BVCF, Mecki Schneider, is die evalueringsproses vir die aanstelling van ’n uitvoerende hoof vir SBO aan die gang met “vyf of ses kandidate” wat geëvalueer word.
Die bemarkingsdirekteur, Diethelm Metzger, het gesê Global Protein Solutions (GPS) van die Verenigde Koninkryk (VK) het reeds belangstelling getoon om al SBPL se produksie te koop.
“Die uitvoer na GPS sal ideaal wees omdat hulle tegnies die volledige beeskarkas neem.”
Sowat 280 karkasse per dag word beplan om teen ’n tempo van 32 karkasse per uur by die aanleg te verwerk. Die aanleg sal na beraming sowat 200 werksgeleenthede skep en volgens Schneider word beoog om die eerste beeste nie later as Junie volgende jaar te slag nie.
[email protected]