Boere in Zambezi kry skuld vir massa-beesvrektes

FAO help met inentingsveldtog
Ná meer as 500 beeste gevrek het, is bevind dat beeste nie ingeënt of ontwurm is nie. Sowat 75% van geraakte boere gee ook geen broodnodige voeraanvullings aan hul beeste wat noodsaaklik is gedurende droogtetye nie.
Francoise Steynberg
Die direktoraat van veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, water en grondhervorming doen ’n dringende beroep op boere oraloor Namibië se noordelike kommunale gebiede om hul vee in te ent.
Dit volg ná ’n ondersoek oor massavrektes van beeste in die Zambezistreek. Die ministerie het derhalwe ’n verskeidenheid van dieremedisyne van meer as N$2,8 miljoen aangekoop om dié gemeenskappe te help en hul dienste aangebied.
Die noodsaaklikheid van inentings in die noordelike gebiede word beklemtoon nadat ’n ondersoekspan hul bevindings bekendgemaak het ná massavrektes van beeste in die Kabbe-kiesafdeling in die Zambezistreek tussen Junie en November verlede jaar.
Volgens die ministerie is vasgestel dat 585 beeste, waarvan die meeste oud, dragtig, lakterend, asook jong beeste was, teen die einde van Oktober 2023 by 23 veeposte gevrek het.
Die ondersoekspan het opgemerk dat meer as 80% van beeste in besoekte gebiede in ’n swak kondisie was ten tyde van die ondersoek en dat die weiding swak was in die meeste besoekte gebiede.
Volgens boere en veewagters was die algemene kliniese tekens wat by die meeste beeste waargeneem is voordat hulle gevrek het, dat hulle nie kan staan nie, asook uitmergeling weens baie swak liggaamskondisie.
“Die meeste beesvrektes het plaasgevind gedurende die maande toe weiding baie swak was en by beeste met swak liggaamskondisie, waar dus tot die gevolgtrekking gekom is dat die meeste diere weens droogte gevrek het,” het dr. Albertina Shilongo, die hoofveeartsenybeampte, gesê.
“Daar is waargeneem dat ongeveer 80% van die geraakte boere nie hul vee teen algemene siektes inent of ontwurm nie.”
Daar is ook bevind dat sowat 75% van geraakte boere geen broodnodige voeraanvullings aan hul beeste gee wat noodsaaklik is gedurende droogtetye nie.

ONDERSOEK DUUR VOORT
DVS-amptenare se ondersoek vir siektes duur steeds voort, insluitend toetsing vir eksotiese siektes, soos theileriosis (’n siekte wat deur bosluise oorgedra word). Boere word versoek om enige verdagte siekte aan te meld.
Amptenare in die Zambezistreek het reeds 89 152 uit 90 000 beeste teen verskeie siektes ingeënt, wat 99% van die geteikende bevolking in die oostelike deel van die streek is.
“Die ministerie hou ontwurmingsmiddels en multiminerale vir gebruik in ’n latere stadium en moet saam met Pasteurella-entstof gegee word wat nog aangekoop moet word.”
Opleiding is van Augustus tot Desember 2023 by 12 verskeie plekke in dié streek gedoen om bewusmaking te skep en boere te bemagtig oor hoe om kuddegesondheidsprogramme behoorlik te implementeer.
Die plekke is Luhonono, Ikaba, Ibbu, Impalila, Nsundwa, Kasheshe, Masokotwane, Lizauli, Chimchimane, Sachona, Lubuta en Sangwali.

INENTINGSVELDTOG
Die Voedsel en Landbou-organisasie (FAO) van die Verenigde Nasies ondersteun die DVS in sy noodsaaklike inentingsveldtog oraloor Namibië se noordelike kommunale gebiede.
Die veldtog teiken die algemeenste en potensieel gevaarlikste dieresiektes, soos onder meer longsiekte, bek-en-klouseer en antraks.
Die FAO het ’n voertuig aan veeartsenydienste geskenk om afgeleë gebiede te bereik, asook kampeer- en inentingstoerusting om die veilige toediening van inentings te verseker. Vir noodsaaklike diere-identifikasie en dataversameling deur die NamLits-stelsel, is oorplaatjies ook beskikbaar gestel.
FAO-beamptes het onlangs die geleentheid gehad om die Musu-gebied naby Nkurenkuru in die Kavango-Wesstreek te besoek om eerstehands die inentings te ervaar.
Hul projek is getiteld “Emergency Technical Support to Control the Spread of Contagious Bovine Pleuropneumonia (CBPP) in Namibia” wat tydens die uitbreking van longsiekte in 2022 ten doel gehad het om alle dieresiektes waar te neem, te voorkom en te beheer.
Die veldtog sal voortduur tot alle uithoeke noord van die veeartsenykordonheining bereik is. – [email protected]