Brasilië steun Namibiese voedselstelsels

Elvira Hattingh
Die Brasiliaanse regering het sowat US$120 000 (N$2,3 miljoen) aan die Verenigde Nasies (VN) se Wêreldvoedselprogram (WFP) in Namibië geskenk om toegang tot voedsel te verbeter en ook wanvoeding binne vyf streke in die land te verminder.
Dit is reeds Brasilië se derde skenking aan die WFP. Die skenking is verwelkom omdat dit kom op ’n tydstip waar Namibië stygende voedselpryse en die nagevolge van die Covid-19-pandemie en ’n droogte in die gesig staar.
Die geld sal aangewend word om robuuste voedselstelsels in gemeenskappe, skole en gesondheidsentrums in die streke Otjozondjupa, Omaheke, Hardap, Kunene en Ohangwena te vestig.
Op die foto (van links) is Ericah Shafudah, die WFP se waarnemende direkteur in Namibië; Vivian Loss Sanmartin, die Brasiliaanse ambassadeur in Namibië; Namibië se adjunk- eerste minister, Netumbo Nandi-Ndaitwah; en die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein.
- [email protected]