BTW: Dertienduisend uitstaande eise in landbousektor

NamRA verduidelik agterstand
Die inkomste-agentskap moet tans 77 000 onafgehandelde oudits takel – met 13 159 ouditsake uit die landbousektor waarmee nog nie begin is nie.
Elvira Hattingh
Die Namibiese Inkomste-agentskap (NamRA) sê BTW-terugbetalings aan landbouprodusente sloer omdat die agentskap nuut is en 77 000 onafgehandelde ouditsake oorgeërf het, terwyl hy ook eers op die opleiding van nuwe personeel moes fokus.
Vivian de Koe, NamRA se hoof, het tydens die afgelope kongres van die Namibië Landbou-unie (NLU) erken daar is oponthoude met BTW-eise en -uitbetalings.
NamRA moet tans 77 000 onafgehandelde oudits takel – met 13 159 ouditsake uit die landbousektor waarmee nog nie begin is nie.
OORGEËRF
De Koe het verduidelik meeste van die oudits is oorgeërf toe NamRA in 2021 op die been gekom het en die administratiewe tak by die ministerie van finansies oorgeneem het – naamlik die afdelings vir belasting en doeane.
Daarbenewens het die stigting van ’n nuwe agentskap vir dié take behels dat personeel verskuif moes word en nuwe aanstellings gedoen moes word. Hierdie mense moes ook intensiewe opleiding ontvang, wat tot gevolg hehad het dat oudits nie in daardie tydperk gedoen is nie.
De Koe sê van die 13 159 onafgehandelde ouditsake in die landbousektor lê die meeste in Windhoek (5 189 onafgehandelde oudits), Keetmanshoop (3 689), Walvisbaai (2 430) en Otjiwarongo (1 758).
Hy sê in Augustus en September was 2 500 oudits in die proses om afgehandel te word, waarvan 374 spesifiek uit die landbousektor kom.
WERK DAARAAN
De Koe sê NamRA werk aan strategieë om die agterstand in te haal en is ook besig om die ouditproses te verfyn sodat elke eis nie noodwendig outomaties deur die stelsel gemerk word vir ’n oudit voor dit afgehandel kan word nie.
“Ons wil die getalle verminder van die BTW-eise wat geoudit moet word, maar net in hoërisiko-gevalle. Dit sal die las op die belastingbetaler verlig.”
Hy het bygevoeg hulle fokus sterk op die behoorlike opleiding en ontwikkeling van personeellede, juis om seker te maak hulle is goed toegerus met die nodige vaardighede en kennis om doeltreffende oudits te doen. Hy glo hierdie belegging sal in die toekoms groot vrugte afwerp vir alle betrokke rolspelers.
“Julle geduld word waardeer. Ons is toegewyd daartoe om ’n regverdige en doeltreffende omgewing te skep,” het De Koe gesê en die NLU se voorstelle verwelkom vir samewerking om die terugbetalings van BTW-eise te bespoedig.
PRODUSENTE SOEK TYDIGE BETALING
Die NLU het verduidelik talle boere se kontantvloei word erg geraak deur die gebrek aan BTW-terugbetalings.
’n Brief deur die Nina-boerevereniging in verband hiermee is by die kongres voorgelees: “Ons moet aanhou BTW betaal, maar ons sukkel dat die oudits op ons boeke tydig gedoen word sodat ons BTW-uitbetalings kan ontvang.
“Die landbousektor se onafgehandelde BTW-uitbetalings het ongekende vlakke bereik, terwyl produsente terselfdertyd uitdagings moet hanteer soos insetkoste wat voortdurend styg, stagnante markte en –pryse en ’n dreigende droogte.
“As landbouers ondersteun ons die prinsiep om BTW te betaal, maar ons grootste kommer is dat die proses nie wederkerig is in die hoeveelheid verantwoordelikheid wat op die belastingbetaler versus NamRA geplaas word nie.
“Ons het sperdatums waarby ons moet hou vir ons opgawes, maar dieselfde tydsbeperkinge is nie van toepassing op NamRA wanneer dit by terugbetalings of die afhandeling van oudits kom nie. Inteendeel, BTW-eise neem jare om te voltooi en produsente word intussen sonder werkende kapitaal vir lang tydperke gelaat,” lui die brief.
- [email protected]