Damsak sorg vir geen verdamping

Goedkoper manier van waterberging
Boere toon groot belangstelling in hierdie reuse-watersak wat volgens Damsak die goedkoopste manier is om water en ander vloeistowwe te berg.
Francoise Steynberg
Damsak is ’n reuse-watersak wat water en ander vloeistowwe kan berg sonder dat verdamping plaasvind en alge daarin groei soos in ander damme of watertenks.
Dit is volgens die Namibiese agente van Damsak, Nico van Rensburg in Windhoek en Wicus Swiegers in Keetmanshoop, wat die indrukwekkende produk by die afgelope NLU Agribraai op Gobabis uitgestal het.
“Water verdamp teen ’n vinnige tempo uit damme. Met Damsak se sterk en duursame materiaal met ’n swart binneste voering, vind geen verdamping of besoedeling plaas nie en alge staan nie ’n kans nie,” het die agente aan Agri Monitor gesê.
Op ’n vraag of dit die hittige son en droë weersomstandighede in Namibië kan weerstaan, het Van Rensburg die jawoord gegee.
“Die eerste Damsak wat in 2007 in Suid-Afrika vervaardig is, staan nog steeds. In Namibië se weer sal ons aanbeveel om ’n skaduweenet daaroor te span.”
Damsak is ’n sak wat soos ’n toe waterblaas is en boonop is dit volgens hulle by verre die goedkoopste waterreservoir.
Dit is maklik om te installeer en ook maklik om te vervoer omdat dit opgevou kan word.
’n Boer van die Kahalari het gesê dit is ideaal vir sy boerdery.
“As jy ’n tenk op ’n duin wil staanmaak, moet jy dit op ’n stellasie sit. Hierdie sak kan net bo-op ’n duin neergesit word en die water kan na die drinkplekke van diere afgelei word.”
’n Boer van Nina, wat reeds drie Damsakke het, het ook sy tevredenheid teenoor Agri Monitor uitgespreek en gesê hy gaan nóg aankoop.
Dit is ook geskik vir besproeiingsdoeleindes of om gryswater te berg wat weer gebruik kan word om sportvelde nat te lei.
Boonop het Damsak veelvuldige gebruike en kan dit met ander vloeistowwe as water gevul word, soos byvoorbeeld wyn.
Dit is nie net geskik vir die landbousektor nie, maar ook vir die konstruksiebedryf en mynbousektor
Damsak kom in verskillende groottes voor met ’n kapasiteit van 15 000 liter tot 330 000 liter.
Vir verdere navrae kan Nico by 081 422 1240 of Wickus by 081 739 0915 gekontak word.
[email protected]