Die ergste lê nog voor vir die droogte in Suider-Afrika

Francoise Steynberg
’n Rekorddroogte wat oeste oraloor Suider-Afrika verwoes het, miljoene mense laat honger ly en vyf lande genoop het om ’n nasionale ramp te verklaar, gaan nog groot skade veroorsaak, het die Verenigde Nasies (VN) gewaarsku.
Die VN se Wêreldvoedselprogram sê hy verwag dat die aantal mense wat sukkel om genoeg kos op die tafel te sit, sal toeneem namate die maer seisoen – die tydperk tussen oeste wanneer voedsel die skaarste is – al nader kom.
“Die ergste kom nou,” het Lola Castro, die wêreldvoedselprogram se waarnemende streekdirekteur vir Suider-Afrika, in ’n onderhoud aan AFP gesê.
“Mense kon nog geen opbrengste van hul huidige oes geniet nie en die probleem is dat die volgende oestyd eers in April volgende jaar is.”
Lesotho het twee weke gelede die vyfde land, ná Malawi, Namibië, Zambië en Zimbabwe, geword wat voedselproduksie as ’n nasionale ramp verklaar het weens die El Niño-droogtetyd.
Ander lande, soos Angola en Mosambiek, kan binnekort volg, of ’n probleem kan ontwikkel weens ’n gaping tussen kos wat beskikbaar is en kos wat benodig word, het Castro gesê.
“Volgens sommige skattings is dié droogte die ergste wat die streek in ’n eeu ervaar.
“Minstens 27 miljoen mense word deur die droogte geraak in ’n streek waar talle op landbou staatmaak om te oorleef.
“Die droogte het 70% van die oes in Zambië en 80% van dié in Zimbabwe uitgewis, wat die voedselaanbod ernstig verminder en pryse opstoot.”
Hoewel die El Niño-siklus tot ’n einde gekom het, duur die uitwerking daarvan voort.
In sommige lande het die maer seisoen ver voor die tyd begin, het Castro gesê.
“Die situasie is uiters kommerwekkend.
“Ons kan nie oor hongersnood of honger praat nie, maar mense kan nie voldoende maaltye koop nie en kry nie die nodige aantal kalorieë per dag in nie. Kinders raak al hoe maerder, die bevolking begin swaarkry.”
Die wêreldvoedselprogram het saam met plaaslike regerings gewerk om die gevolge van die gebrek aan reën te versag.
Die program moedig boere aan om meer droogtebestande gewasse soos onder meer sorghum en giers te plant om toekomstige droogtes te weerstaan.
Die program het ook geld gevra van sowat US$409 miljoen om kos, kontant en ander bystand aan sowat ses miljoen mense in die streek te verskaf.
Sowat US$200 miljoen is reeds ingesamel, het Castro gesê.
El Niño is ’n herhalende natuurlike weerverskynsel wat ooreenstem met die grootskaalse styging van oppervlaktemperature in die sentrale en oostelike dele van die wêreld. Dit lei tot droogtetoestande in sommige streke van die wêreld en oormatige reën in ander. – AFP