Die skouseisoen is amper hier!

Droogte stuit niemand
Stampriet, Grootfontein, Gobabis en Windhoek se jaarlikse skoue begin aan die einde van die maand, met die meeste inskrywings wat reeds gesluit het.
Elvira Hattingh
Ongeag die droogte wat ’n demper op nasionale skoue kon plaas, word daar vanaf die einde van Augustus tot 30 September weer landswyd skoue aangebied.

STAMPRIET
Eerste aan die beurt is die gewilde Stampriet Skou vanaf 26 Augustus tot 1 September, waar die Suide se beste kleinvee ten toon gestel sal word, terwyl uitstallers alles van kos, handgemaakte items, klere, juwele, landboutoebehore en watertoerusting te koop sal aanbied.
Die skou, wat bekend is vir sy jaarlikse, groot veiling, bied op Donderdag 31 Augustus sy ooiveiling aan en sy ramveiling op Vrydag 1 September. Die veilings word deur Namibia Livestock Auctioneers behartig.
Vir die ooiveiling is sowat 170 Meatmasters op aanbod, asook 75 boerbokke, 31 dorpers, 29 Van Rooy-skape, 20 witdorpers, tien Kalahari Reds en vier Damara-skape.
Op die ramveiling kan skougangers 96 Meatmaster-ramme verwag, 85 dorpers, 60 boerbokramme, 35 witdorperramme, 31 Van Rooy-ramme, 12 Damara-skape, ses Kalahari Reds asook vyf persies.

GROOTFONTEIN
Daarna volg Grootfontein se skou vanaf 13 tot 15 September, waartydens die Noorde se heel beste beeste, perde en kleinvee geskou en uitgestal sal word, terwyl die dorp ook vanjaar gasheer vir die 2023 Namibiese Saalperd-kampioenskappe speel.
Buiten vir die skou se fokus op landbou en landboutoebehore, word daar vanjaar ook hard aan die vermaakfront gewerk. ’n Mnr. en Mej. Grootfontein Skou sal gekroon word, terwyl mode-ontwerpers kleredrag uit herwinde items sal maak en vertoon en verskeie sangers skougangers sal vermaak.
Tsumeb se George Jesaya, wat onlangs tydens die Suid-Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr se konsert in Tsumeb saam met hom gesing het, is een van die sangers wat die verhoog aan die brand gaan sing.
Vir kinders word onder meer ’n skolekunskompetisie uit herwinde items beplan asook ’n treinrit, ’n rodeo-bul, ’n verskeidenheid van springkastele, ’n “bungee bounce” en selfs ’n planetarium.

GOBABIS
Gobabis se skou vind van 20 tot 23 September plaas en vier vanjaar ook sy 60ste bestaansjaar.
Corrie Britz, wat in beheer van die grootvee-afdeling is, sê daar is reeds groot belangstelling in die beesskou.
“Inskrywings vir altesaam 225 beeste is reeds ontvang, asook vir 38 slagosse. Terselfdertyd sal Braunvieh Namibia sy oostelike kampioenskappe op die skou hou,” sê sy.
“Ons skou gewoonlik met agt rasse, maar vanjaar is daar 11 rasse. Daar is ook vanjaar besonder baie Brahmane en Simbras ingeskryf.
“Woensdag word die beoordeling vir die slagoskompetisie gedoen, Vrydag is dit die Braunvieh-beesras se kampioenskappe, Saterdagoggend die interrasbeoordeling en die namiddag die skouparade,” het sy gesê.

WINDHOEK
Windhoek se landbou- en lewendehaweskou vind vanjaar vanaf 25 tot 30 September plaas, met die Braunvieh-beesras wat sy nasionale kampioenskappe op Vrydag 29 September sal hou. Dit sal ook die eerste keer in jare wees wat beeste op die skouveiling aangebied sal word – met sowat 11 beeste wat ingeskryf is.
Hennie Kruger, die sameroeper van die skou se lewendehawe-afdeling, sê daar is vanjaar inskrywings vir sowat 400 beeste uit 11 beesrasse deur sowat 48 telers ontvang. Hy sê die droogtetoestande plaas boere en gevolglik skou-inskrywings onder druk, want dit kos baie om diere skougereed te kry.
Hy het bygevoeg dat 24 osse vir die slagoskompetisie ingeskryf is. Kindertouleiers sal weer beoordeel word, terwyl die keurderskompetisie vir kinders, beter bekend as die Feedmaster Bank Windhoek-jeugkompetisie, ook aangebied sal word.
[email protected]