Droogte demp nie Du Preez Wild-veiling

Francoise Steynberg
Die Du Preez Wild-veiling op die Outjo Wildsfees het Saterdag alle verwagtinge oortref en uitstekende pryse behaal, ondanks die impak van die droogte.
Knap voor 11:00 toe die aanlyn en katalogusveiling moes afskop, was die tent nog nie gevul nie, maar voor jy volstruis kon sê was die tent stampvol. Bieërs se hande het opgeskiet en aanlyn bieërs het selfone laat bewe om spogwild op te raap.
Soos verwag het die bastergemsbokbul met horings van 29 duim lank ’n uitstekende prys van N$122 000 behaal. Neels van Zyl het die ander twee bastergemsbokke – ’n bul en ’n koei – teen N$97 000 elk gekoop.
Zana Botes het twee swartwitpensbulle met horings van 44 en 42 duim lank teen onderskeidelik N$90 000 en N$80 000 opgeraap.
Ander wildspesies wat wat onder die hamer gekom het, sluit onder meer in kameelperd, springbok, njala, blesbok, hartebees, lechwe, rooibok, tsessebe, eland, renoster, gemsbok, koedoe, swartwildebees, blouwildebees, goue wildebees, Hartmann- en Burchelle-sebras, waterbok en volstruis in.
Die goeie goue wildebees is teen N$29 000 verkoop asook ’n njalabul teen N$35 000 deur Portsmut Eco Safaris en die njala-ooi teen N$30 000 deur Okapuka Ranch. Die Damara dik-dik-teelpaar is teen N$25 000 deur Dirk de Bod Safaris Namibia opgeraap.
Volgens die hoof van Augra Auctions, Paul Klein, is die sukses van die veiling ’n teken dat daar vertroue in die toekoms van die wildbedryf in Namibië is.
“Al is dit droogte, groei die wild- en toerismebedryf in die land,” het hy na afloop van die veiling aan Agri Monitor gesê.
Klein het bygevoeg dat die kwaliteit wild en die goeie beeld van Du Preez Wild, ’n huishoudelike naam wat al vir 41 jaar in die wildbedryf is, ’n rol speel in die sukses van die immergewilde Du Preez Wildveiling.
Jannie en Dirk du Preez van Du Preez Wild het gesê hulle is aangenaam verras deur die goeie pryse wat behaal is ondanks hul voorspelling vooraf dat die wildsveiling weens die droogte minder suksesvol as in die verlede sal wees met “die koopmark wat maar stillerig is”.
Dirk het wildkopers vir hul lojaliteit en vertroue in Du Preez Wild bedank, asook hul span vir hul harde werk na nog ’n suksesvolle wildsveiling.
[email protected]