El Niño én warm Indiese Oseaan dreig

Regering loods droogtehulpbystand
Terwyl weerkenners bekommerd is oor wat die komende reënseisoen vir Namibië sal beteken, sal 26% Namibiërs na verwagting vanaf Oktober 'n akute gebrek aan voedselsekuriteit ervaar.
Elvira Hattingh
Die Australiese Buro vir Meteorologie volstaan by sy Enso-uitkykstatus vir ’n El Niño, terwyl die Indiese Oseaan-dipool (IOD) vir die tweede agtereenvolgende week positief is, met die seeoppervlak van die Indiese Oseaan wat 0,4 °C warmer as normaal is.
Die buro sê egter voor ’n positiewe IOD verklaar kan word, moet dit nog weke lank voortduur.
’n Warm Indiese Oseaan is egter nie goeie nuus vir reënneerslae in Suider-Afrika nie, omdat dit ’n gunstige omgewing vir meer siklone in die Mosambiekkanaal skep. Dit beteken die vog wat andersins normaalweg suidwaarts vanaf Angola oor Namibië sou afkom, is geneig om meer ooswaarts te beweeg.

EL NIÑO
Daarbenewens is die Australiërs van mening ’n 70%-kans bestaan dat El Niño-toestande wel sal vestig.
Tydens die vorige El Niño in 2019, wat die sterkste op rekord was, het Namibië ook een van die ergste droogtes in die geskiedenis ervaar.
Tans oorskry seeoppervlaktemperature in die tropiese Stille Oseaan El Niño-drempels, terwyl dit voortgaan om steeds warmer te raak.
“Dié seeoppervlaktemperature sal na verwagting tot minstens vroeg in 2024 bo El Niño-drempels bly,” waarsku die buro.
Die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI), wat as ’n maatstaf dien vir die verhouding tussen seeoppervlaktemperature in die Niño-gebiede en oorhoofse weerstelsels, het egter nog nie El Niño-drempels gehaal nie.
Volgens die buro wys dit dat die Stille Oseaan en die atmosfeer mekaar nog nie konsekwent versterk om El Niño-toestande mee te bring nie.

VOEDSELSEKURITEIT
Dit kom nadat die kantoor van die eerste minister (OPM) verlede week in ’n mediaverklaring gesê het ’n ontleding van plaaslike voedselsekuriteit wek kommer.
Volgens die ontleding beleef sowat 579 000 (22% van die bevolking) sedert Julie vanjaar reeds ’n akute gebrek aan voedselsekuriteit en benodig hulle dringende bystand.
“Na verwagting sal die aantal Namibiërs wat ’n akute gebrek aan voedselsekuriteit ervaar, tussen Oktober vanjaar tot en met Maart 2024 tot 26% groei, of sowat 695 000 mense,” het die OPM se uitvoerende direkteur, I-Ben Natangwe Nashandi, gesê.
Terselfdertyd word ’n droogtehulpprogram deur die regering van stapel gestuur, wat sowat N$892,4 miljoen sal kos. Ingevolge die program sal voedselbystand vanaf 1 Oktober aan bestaansboere in al 14 streke van die land gebied word, terwyl ’n ondersteuningsprogram vir lewende hawe ook van 1 Oktober tot 31 Maart volgende jaar van stapel gestuur word.
[email protected]