Entrepreneur droom van sy eie baalmasjien

Wil meer werksgeleenthede skep
Tydens die droogte bestel kliënte grasbale vooraf.
Francoise Steynberg
Die 40-jarige Jerobeam Nanganga noem homself ’n mobiele grasbaalmaker.
“Waar ek ookal gras sny, baal ek die gras met ’n baalmasjien wat ek in die Lafrenz-nywerheidsgebied huur,” het hy aan Agri Monitor gesê.
Jerobeam huur die baalmasjien teen N$700 per maand en hy wil graag ’n tweede baalmasjien huur. Om ’n baalmasjien te koop, gaan hom N$7 000 uit die sak jaag, maar dit is sy droom en hoofdoelwit.
Hy en sy broer Shanyengonghoshi Levi is oorspronklik van Eenhana in die Ohangwenastreek en probeer ’n lewe maak uit gras sny, dit baal en verkoop.
“Ons sny gras waar daar gras is – van langs die paaie tot in rivierbeddings. Een dag sny ons gras, die volgende dag laat ons dit droog word en die dag daarna maak ons bale,” verduidelik Jerobeam.
“Ons maak tans 20 bale per dag. Drie mans sny die gras en ek en my broer maak saam die bale. Ek sal graag vroue ook in diens wil neem wat die gras by ’n sekere plek verkoop.”
Hy het begin om gras langs die B1-hoofweg te sny en te verkoop, dit met net sy telefoonnommer 081 555 8260 op ’n bordjie.
“Nou tydens die droogte het ek gereelde kliënte wat vooraf bestellings by my plaas. My kliënte sal my ook inlig waar daar gras is om te sny.”
Hy sê sy kliënte boer orals, selfs in die Noorde.
Met Jerobeam se droom om sy eie baalmasjien te koop, hoop hy om meer mense in diens te neem. – [email protected]