Erdwurmboerdery vir goeie wins

Plaaslike bedryf steeds onderontwikkeld
Danou van Rensburg vertel toe sy oupa aanvanklik met erdwurms geboer het, het hy nie veel daarvan gedink nie. Tog het hy sowat ses jaar gelede self "'n gier gekry" en daarmee begin boer.
Elvira Hattingh
Erdwurmboerdery in Namibië hou groot belofte in, maar die bedryf is tans nog onderontwikkeld met erdwurms wat vir soveel as N$1 per wurm verkoop word.
“Die winsmarge op komposwurms in Namibië is tans nog baie hoog. Nietemin kan ek nie vinnig genoeg erdwurms produseer om aan die plaaslike behoefte te voldoen nie,” vertel Danou van Rensburg, ’n erdwurmboer van Otjiwarongo.
Danou – wat sê hy verkoop daagliks sowat 400 erdwurms – het onlangs ’n praatjie by die AgriXtra-boeredae op Gootfontein gelewer oor hoe boere hul plase meer winsgewend kan maak met behulp van erdwurmboerderye.
“Erdwurms is tans nog baie duur in Namibië. Ek hoop ons kan op ’n punt kom waar erdwurms so volop in Namibië is dat dit goedkoper, in kilogramme, verkoop kan word. Tans word erdwurms een vir een getel en elk teen sowat N$1 per wurm verkoop.
“Die beste manier om egter geld uit jou erdwurms te maak, is deur dit op jou lande of in jou tuin te gebruik. Jy kan dit ook aan nuwe boere verkoop, of aan die visbedryf, terwyl jy dit ook in die vorm van boederystelsels kan verkoop.
“Jy kan ook wurmtee verkoop. In Namibië word wurmtee vir sowat N$60 per liter verkoop. Dit is die gekonsentreerde vorm wat uit ’n komposstelsel uitdrup soos jy kos byvoeg. Buiten dit kan biochar ook met wurmkompos geaktiveer word,” het Danou gesê.

AGTERGROND
Hy vertel toe sy oupa aanvanklik met erdwurms geboer het, het hy nie veel daarvan gedink nie. Hy het egter sowat ses jaar gelede self “’n gier gekry” en daarmee begin boer – al is hy eintlik ’n eiendomsagent.
“Daar is sowat 6 000 soorte erdwurms in die wêreld en tot 350 soorte kom in Suider-Afrika voor,” het hy verduidelik.
Hy boer egter met die komposwurm (red wiggler/tiger worm of Eisenia fetida), waarvan die bevolking elke maand kan verdubbel – indien hulle reg versorg word.
“Die natuurlike erdwurms wat in ons omgewing gevind word, teel net sowat een maal per jaar aan en grond vorm deel van hul dieet. Daarteenoor kry jy komposwurms – wat ook ’n tipe erdwurm is – waarmee daar verkieslik mee geboer moet word.
“Die rede hiervoor is hulle teel baie vinniger aan en maak baie vinniger kompos. Hulle eet nie grond nie, slegs organiese materiaal en het hul oorsprong in reënwoude, waar hulle op die oppervlak van die grond onder die blarelaag woon.
“Hulle het egter baie vog nodig om te oorleef, terwyl ons natuurlike erdwurms tot 10 m diep onder die grond in kan beweeg – soos die vog in die droë wintermaande afsak,” vertel hy.

VOORDELE
“Charles Darwin het gesê iets magies gebeur binne ’n erdwurm. Erdwurms voeg talle voedingstowwe en selfs groeihormone in die grond in,” het Danou verduidelik.
“Erdwurms verbeter die dreinering van die grond waarin hulle woon tot tien keer. Dit beteken die grond absorbeer reënwater baie beter. Daarbenewens verbeter dit die struktuur van die grond, wat plantegroei aansienlik verbeter.
“Hulle stel ook groeihormone vry, wat jou plante vinniger laat groei en meer weerstandig teen siektes maak. Dooie wurms verander in stikstof,” het hy gesê.

IDEALE TOESTANDE
Ideale toestande vir erdwurms is ’n humiditeit van sowat 80% en temperature van tussen 10 °C en 21 °C binne die grond waar hulle voorkom.
Die grond se graad van suurheid moet verkieslik tussen 5 en 9 op die skaal meet.
Danou voer sy wurms meestal perdemis, maar die erdwurms het ’n verskeidenheid van kos nodig. Daarom gee hy ook ander kos, soos byvoorbeeld mango’s of die doppe van hoendereiers, ’n bietjie sand, blare asook houtskerwe.
Hy sê erdwurms sal vlug as hul omgewing te suur raak – en gewoonlik kan jy dit ruik as die probleem ontwikkel.
“Jy kan dit verhelp deur ’n bron van koolstof by te voeg, soos byvoorbeeld eierdoppe of droë blare. Dit sal die balans tussen koolstof en stikstof herstel. Waar die omgewing te suur raak, sal wurms probeer ontsnap of na die oppervlak kom,” het hy verduidelik.

TOEPASSING
Danou sê die erdwurms waarmee hy boer, kan nie ons winters of droogtetydperke in die natuur oorleef nie. Hulle het deurlopende nat toestande en genoeg kos nodig.
“Die meeste van ons lande het reeds natuurlike tipe erdwurms, wat die winter oorleef deur tot so diep as 10 m onder die grond in te beweeg. Om hulle meer aktief op jou lande te maak, kan jy die grond vogtig hou en meer organiese materiaal byvoeg.
“As jy egter kompos-erdwurms op jou lande wil byvoeg, kan jy een kant ’n erdwurmboerdery aan die gang hou en voortdurend nuwe wurms op jou landerye byvoeg om die wat vrek, te kan vervang.”

BOERDERYMETODES
Danou sê na sy mening is die beste manier om met die erdwurms te boer, om swart bouseile uit te gooi.
Hy plaas dan die erdwurms se kos bo-op. Dan word ’n klein emmer erdwurms bo-op omgekeer en die wurms vind hul weg oor die seil en deur die kos. Hy plaas ook ’n laag gras bo-oor om die temperatuur te reguleer.
Hy voer dan die wurms deur hul kos alles op een punt te plaas.
“Die erdwurms besluit self wanneer die kos gereed is om te gebruik.
“Nog ’n manier is deur die gebruik van 200 liter-emmers, met ’n deurtjie aan die onderkant waar die kompos uitgeskep kan word en die kos bo-in bygevoeg kan word. Die erdwurms bly gewoonlik in die boonste 20 cm van die kompos.
“Daar kan ook daagliks 20 liter water in die stelsel ingegooi word en aan die onderkant as ’n verdunde vorm van wurmtee uitgetap word.
“’n Derde metode is ’n stelsel waar drie 20 liter-emmers op mekaar geplaas word, waaruit daar eindelik beide kompostee asook kompos geoes kan word,” het Danou gesê.
Die onderste emmer het ’n kraan in en die deksel het talle klein geboorde gaatjies. Die middelste emmer het wurms en kompos in, asook gate in die deksel en bodem. ’n Derde emmer, soortgelyk aan die middelste een, word bo-op die stelsel geplaas.
Mettertyd beweeg die wurms na die boonste emmer, soos daar voordurend nuwe kos bygevoeg word. Naderhand bevat die middelste emmer al die kompos en die onderste emmer versamel die kompostee.
’n Ander boerderymetode sluit in dat jy ’n emmer met komposwurms by jou vrugtebome plaas en dan die water wat jy aan die boom sou gee, deur die emmer laat hardloop, het hy verduidelik.

VOEDSEL
Danou sê solank jy wurms genoeg kos en ruimte bied, sal hulle aanhou vermeerder.
Hulle eet meestal dieremis, maar ook plantmateriaal, blare, gras asook kartonbokse. Hulle eet bykans alle afvalkosse uit ’n kombuis, maar nie vleis en suiwelprodukte nie. Hulle hou ook besonder baie van moerkoffiekorrels, pasta, brouersgis en brood.
Superkosse vir erdwurms sluit in moerkoffiekorrels, waatlemoen, piesangs en mango’s. Hulle moet egter nie sitrusvrugte, uie en knoffel gevoer word nie – veral nie binne ’n klein stelsel nie, omdat die stelsel dan suur kan word.
Hy sê hoenders en tarentale en die meeste voëls eet graag erdwurms, terwyl miere, termiete, muise hul natuurlike vyande is.
Danou kan op 081 036 7904 gekontak word, of sy Facebookblad “The Food Forest Namibia” kan gevolg word.
Die wurms word landswyd gekoerier. Danou het ook verskeie video’s op YouTube opgelaai en het ’n aanlyn kursus ontwerp waar hy mense oor erdwurms leer. Hy is ook besig om ’n gratis e-boek te voltooi oor hoe om met erdwurms te boer.
[email protected]