Gebruik so min as moontlik antibiotika

LPO benadruk verantwoordelike gebruik
Die regering oorweeg tans streng beheermaatreëls vir die gebruik van antibiotika, wat ook plaasdiere insluit.
Francoise Steynberg
Die Landbouprodusente-organisasie (LPO) lê groot klem op die verantwoordelike gebruik van antibiotika by vee.
“Gebruik so min as moontlik, maar so veel as nodig. Neem doeltreffende voorsorgmaatreëls om die behoefte aan antibiotika te minimaliseer. ’n Gesonde dier het nie antibiotika nodig nie!” beklemtoon die LPO.
Daar is internasionale konsensus dat antimikrobiese weerstand ’n groot bedreiging vir mense, diere en omgewingsgesondheid inhou, insluitend die landbousektor.
Toenemende druk word op die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) geplaas om die gebruik van antibiotika te reguleer. Die Namibiese regering oorweeg tans streng beheermaatreëls vir die gebruik van antibiotika, wat ook plaasdiere insluit en wat derhalwe ’n impak op veeprodusente kan hê.
In 2020 is die Namibiese antimikrobiese weerstand nasionale aksieplan (NAAP) bekend gestel om bewustheid oor die verantwoordelike en doeltreffende gebruik van antibiotika te verhoog. Dié inisiatief sluit opleidingsprogramme in wat gelei word deur die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, water en grondhervorming.
Die LPO sê die implementering van hierdie plan vorder stadig: “Pogings is aan die gang deur verskillende rolspelers, soos Duitsland se Federale Navorsingsinstituut vir Dieregesondheid, die Friedrich Loeffler Instituut (FLI) in samewerking met die sentrale veeartsenylaboratorium om die leemtes te takel en ’n aksieplan vir die komende jare op te stel.”
Vergaderings van belangegroepe, wat georganiseerde landbou insluit, vind jaarliks plaas om ’n geleentheid vir belanghebbendes te bied om hul suksesse te deel rondom die implementering van die NAAP en ook om leemtes uit te lig. Dit bied voorts die geleentheid vir samewerking met sleutelministeries en ander sektore.
Die LPO is daartoe verbind om doeltreffende antibiotika-praktyke onder veeprodusente te bevorder. Dr. Anselm Voigts en Egbert Hoff verteenwoordig die organisasie by die belangegroepe se vergaderings.
“Tydens ’n werkwinkel in Oktober 2023 het die LPO ’n voorstel gemaak dat inspuitbare tetrasikliene en sulfonamiede se regulering nie verhoog word nie, maar dat boere dit steeds oor die toonbank kan aankoop. Die voorstel is deur die vergadering ondersteun.”
Verder is bespreek dat antibiotika, wat as voerbymiddel, groeistimulant en in voermengsels gebruik word, asook mastitis-uierbehandeling, geskeduleer word as S2 (slegs op voorskrif beskikbaar). ’n Besluit oor hierdie voorstelle is nog hangend.
Middel April het die belangegroepe weer vergader en die belangrikheid van toeganklike verteenwoordigende data is regdeur die besprekings beklemtoon.
Die LPO meen dit is noodsaaklik om die insameling, evaluering en verspreiding van relevante data te verbeter en doeltreffende toesighoudende stelsels in die mediese, veeartsenykundige en tuinbousektore te vestig.