Genoeg pampoene, botterskorsies vir Maart

Akkerbouraad sê oor oesverwagtinge
Namibië sal in Maart genoeg van sy eie botterskorsies, pampoen, konfyt- en kersietamaties en soetrissies beskikbaar hê en sal dus niks hiervan hoef in te voer nie.
Elvira Hattingh
Namibië sal vandeesmaand ‘n oormaat van sy eie botterskorsies en pampoen beskikbaar hê, terwyl daar tekorte sal wees aan kool, groen pampoentjies, uie en aartappels, wat dus ingevoer sal moet word.
Dienooreenkomstig word grense in Maart gesluit vir die invoer van botterskorsies en pampoen.
Daar sal ook genoeg konfyt- en kersietamaties, groen soetrissies en gekleurde soetrisses in Maart beskikbaar wees, met tekorte aan wortels, spinasie en ronde tamaties.
Wat Engelese komkommer, soetmielies en patats betref, was Namibië selfvoorsienend in Januarie. Tekorte word vandeesmaand aan waatlemoen, spanspek en blaarslaai verwag, terwyl daar net genoeg beet vir die eerste helfte van Maart beskikbaar sal wees.
Dit volgens die Namibië Akkerbouraad (NAB) se jongste produksieverslag oor plaaslik geproduseerde groentes vir die tydperk tussen 1 Maart en 31 Julie. In die verslag word verwagte oeste van 20 spesiaal beheerde groentes weergegee, asook wat die verwagte tekorte en surplusse sal wees.
Sodra daar plaaslik genoeg van een van hierdie gewasse geproduseer is, word grensposte vir ‘n tyd lank vir die invoere daarvan gesluit. Dit om seker te maak plaaslike produksie word benut.

PAMPOENE, AARTAPPELS
Volgens die verslag sal plaaslike produsente tot in Julie na verwagting altesaam 1 141 ton botterskorsies, 2 598 ton kool, 57 ton groen pampoentjies, 8 419 ton uie, 3 538 ton aartappels en 709 ton pampoen oes.
Namibië se behoefte aan die produkte oor die vyf maande staan egter op 1 540 ton botterskorsies, 2 915 ton kool, 219 ton groen pampoentjies, 5 046 ton uie, 18 880 ton aartappels en 586 ton pampoen.
Dienooreenkomstig sal daar ‘n surplus van 1 108 ton uie en 124 ton pampoen in die tyd wees, terwyl die tekort aan aartappels op 15 342 ton sal staan. Daar sal ‘n tekort aan 399 ton botterskorsies, 317 ton kool en 162 ton groen pampoentjies wees.
Die Akkerbouraad sê dit sal in Maart grense oopstel, volgens gegewe persentasies, vir die invoere van kool, groen pampoentjies, uie en aartappels, hoewel die 47%-markaandeleskema (MSP) steeds vir plaaslike handelaars geld.
Hiervolgens is hulle verplig om eers 47% van die produkte waarmee hulle handel dryf, van plaaslike bronne aan te koop voordat dié groentes ingevoer kan word.

TAMATIES
Na verwagting sal altesaam 969,9 ton ronde tamaties tot in Julie vanjaar plaaslik geoes word, terwyl die vraag op 2 146,9 ton oor die tydperk sal staan. Die vraag na konfyttamaties is sowat 47,4 ton, terwyl daar plaaslik na verwagting 1 044,8 ton oor die tydperk geoes sal word.
Die Namibiese mark sal oor die vyf maande ‘n behoefte hê aan sowat 2 141,6 ton wortels, terwyl daar plaaslik 1 444,8 ton geoes sal word. ‘n Surplus van 237,7 ton groen soetrisses en 375,6 ton gekleurde soetrissies sal plaaslik beskikbaar wees, terwyl daar ‘n tekort van 94,9 ton spinasie en 27 ton kersietamaties sal wees.

BEET
Terwyl Namibië vir nou genoeg beet het, sal dit teen Julie vanjaar na verwagting 106 ton moet invoer om plaaslike tekorte aan te vul, terwyl daar ook 49 ton Engelse komkommer, 68 ton patats, 520 ton waatlemoen, 276 ton spanspek, 94 ton blaarslaai en 14 ton soetmielies ingevoer sal moet word.
Terselfdertyd sal sowat 32 ton blomkool, 14 ton broccoli en 41 ton sampioene ingevoer moet word.