Groen geld nou beskikbaar

Elvira Hattingh
Volgens ’n mediaverklaring wat onlangs deur die Omgewingsbeleggingsfonds van Namibië (EIF) vrygestel is, hoef Namibië nie langer meestel op eksterne of internasionale kenners te vertrou om bankbare projekte te ontwikkel nie.
Meer as N$200 000 is beskikbaar gestel aan sewe ondernemings wat finansiering deur die Groenklimaatfonds (GCF) probeer bekom.
Die EIF neem die voortou met toegang tot finansiering vanaf die Verenigde Nasies se GCF en het al vir Bank Windhoek, AgriBank, die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) en die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme as nasionale nominerende owerheid benoem om die geld plaaslik te versprei.
Struikelblokke soos tegniese kapasiteit belemmer egter die vermoë om aan alle GCF-vereistes te voldoen, aldus die EIF.
’n Projekspan is saamgestel en ’n slypskool is einde Maart in Windhoek gehou. Met dié geld moet die betrokke ondernemings hul konsep voltooi en aansoeke indien om verdere gebruik van die GCF-geld aan te moedig.
Danksy die akkreditasie van die EIF by die GCF in 2016 en herakkreditasie in Oktober 2021, is ’n nuwe geleentheid geskep vir meer entiteite om geakkrediteer te word en toegang tot projekte vir klimaatsverandering te verkry.
As die beskermheer van klimaatsfinansiering, streef die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme na die uitbreiding van die nasionale kapasiteit om GCF-finansiering in die land te koördineer en te implementeer, lui die verklaring.
Tot dusver het die ministerie vier entiteite genomineer vir akkreditasie by die GCF: Bank Windhoek, die DBN, Agribank asook die Namibië Natuurstigting (NNF).
Die rasionaal agter die nominering van hierdie entiteite is gebaseer op die feit dat die DBN, sodra dit geakkrediteer is, potensieel toegang tot finansiering sal hê vir beleggings in onder meer hernubare energie en infrastruktuur, word in die verklaring verduidelik.
Bank Windhoek kan toegang tot die private sektor verkry, terwyl Agribank toegang tot lenings in die landbousektor sal hê.
Oor die lang termyn sal dit ’n invloed hê op onder meer die skaal waartoe Namibië toegang tot klimaatsfinansiering sal hê.
Dienooreenkomstig is die klimaatsfinansierings-werkgroep se sleutel-verantwoordelikheid om met bankbare projekte vorendag te kom wat by klimaatsdoelwitte sal aansluit.
Een van die sleutelprojekte van die program, is die sogenaamde Tidret-projek, wat staan vir “Na ’n inklusiewe ontwerp vir die oorskakeling na hernubare energie”.