Groen geld vir groen energie

Projek moet haalbaarheidstudies laat afskop
Die gereedheidsprojek, waarvoor die geld al teen Desember 2021 vasgemaak is, sal sowat sewe maande duur.
Elvira Hattingh
Die Omgewingsbeleggingsfonds van Namibië (EIF) kon daarin slaag om finansiering van sowat US$300 000 (N$5,4 miljoen) van die Groenklimaatfonds (GCF) te bekom vir ‘n projek genaamd Green, Resilient Recovery Rapid Readiness Support in Namibia.
Hierdie projek het ten doel om ‘n haalbaarheidstudie van stapel te stuur oor die drie beplande “groen valleie” in die ||Kharas-, Khomas- (Walvisbaai ingesluit) en Kunenestreek, soos uiteengesit in Namibië se groenwaterstofstrategie (GHS).
Die gereedheidsprojek, waarvoor die geld al teen Desember 2021 vasgemaak is, sal sowat sewe maande duur. Die EIF, as 'n geakkrediteerde entiteit by die GCF, is die uitvoeringsvennoot vir hierdie projek.
Die program (NAM-RS-004) het vier hoofgebiede waarop aktiwiteite gefokus sal word, naamlik die versterking van relevante owerhede en vennote, die ontwikkeling van strategiese raamwerke, die voorbereiding van entiteite vir akkreditasie, die ontwikkeling van bande asook die deel van inligting en ervaring.
Intussen is 'n vergadering op 13 April in Windhoek gehou om die projek aan rolspelers bekend te stel, asook om te verduidelik hoe die implementering daarvan sal werk en om belangegroepe oor die doelwitte van die projek in te lig. Belangegroepe is tydens die geleentheid ook bewus gemaak van die aktiwiteite wat as deel van die projek uitgevoer sal word en die omvang van die program.
Onder meer regeringsamptenare, uitvoerende hoofte van verskeie entiteite asook lede van die algemene publiek het die geleentheid bygewoon.

AGTERGROND
Namibië hoop om ‘n enorme “groen brandstofnywerheid” op die been te bring en sowat 10 tot 12 miljoen ton waterstof per jaar vanaf die jaar 2050 te produseer. Die hoop is om ‘n geïntegreerde, florerende groen ekostelsel binne Suider-Afrika te vestig wat onder meer krag na Suid-Afrika, Botswana, Zambië en Angola sal kan uitvoer.
Tot dusver het Namibië ondersteuning vir altesaam ses gereedheidsprojekte ontvang, waaronder die gepaste instelling van beleide val, asook die ontwikkeling van die GCF se plaaslike strategie en die ontwikkeling van gepaste wetgewing.
Vir meer inligting, besoek https://www4.unfccc.int/sites/NAPC/Support/Pages/GCF.aspx