Houtuitvoere uit Namibië neem toe
CAoN kyk terug oor afgelope jaar
Elvira HattinghUitvoere van Namibiese hardehout het tussen 1 November 2021 en 31 Oktober verlede jaar met altesaam 12% toegeneem, alhoewel ’n tekort aan vraghouers die proses belemmer het. Dié situasie het egter sedert verlede jaar begin verbeter, volgens die Houtskoolvereniging van Namibië (CAoN) se verslag in die Namibië Landbou-unie (NLU)-jaarverslag van 2021–’22 wat onlangs vrygestel is.
Die vereniging sê totale uitvoere na die Europese Unie (EU) het nou gegroei tot 51% van hul totale uitvoere. Ander lande waarna beduidende hoeveelhede hout- en houtskool uitgevoer word, is die Verenigde Koninkryk (VK) asook Suid-Afrika.
Die markte vir plaaslike houtskool wat die vinnigste groei, is die VK, Switserland en Pole. Daarteenoor is markte soos Nederland, Suid-Afrika en Finland dié wat die meeste gekrimp het in 2022.
Daar word egter vir die verminderde uitvoere na Suid-Afrika opgemaak deur groter uitvoere na Europa en die Midde-Ooste, word in die verslag aangedui.
WINSGEWENDHEID“Stygende brandstofpryse is die hoofrede hoekom dit moeilik raak om houtskoolproduksie winsgewend te hou,” sê die vereniging.
CAoN sê alhoewel dit al hoe moeiliker raak vir produsente om hout en houtskool volhoubaar te produseer, het meer produsente verlede jaar by hul vereniging aangesluit.
“Dit is omdat houtskool steeds die enigste alternatief is vir baie boere wat hul weiding wil verbeter en ook ’n bron van inkomste wil skep om hul werksaamhede te finansier,” sê die vereniging.
“Vir talle is dit ’n goeie bron van inkomste ná die jarelange droogte wat in 2019 tot ’n einde gekom het. Dit kan boere tot vyf jaar neem om van ’n ernstige droogte te herstel.
NUWE REëLSDie vereniging, tesame met die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, het verlede jaar ook nuwe reëls en riglyne in werking gestel vir houtskoolprodusente, wat as ’n groot sukses beskou word. Dit omdat geen brande amptelik tussen Mei en November 2022 aangemeld is wat weens houtskoolproduksie ontstaan het nie.
“Ons is dankbaar dat ons produsente, met groot moeite, die reëls en regulasies toegepas het en ons vertrou dat dieselfde vanjaar sal gebeur,” het die vereniging gesê.
Daarbenewens het CAoN ook opleiding op plase gegee in verskeie plaaslike tale oor onder meer die eendag-brandtegniek. Dié tegniek verminder die rookproduksie van konvensionele houtskoolproduksie met tot 60%.
“Daar is nog produsente wat nie die nuwe metode gebruik nie, maar ons kan wel sê dat die nuwe metode help dat ons standaarde – soos uiteengesit deur die EU – kan nakom.”
CAoN het reeds 1 354 werkers in 94 opleidingsessies oor die nuwe metode touwys gemaak. Daarbenewens is opleiding in die gebruik van kettingsae gegee. “Die tegniek, tesame met die benutting van sentrale verbranding, beteken drie ton biomassa kan nou een ton houtskool lewer, waar dit daarsonder vyf ton biomassa vereis het. Baie produsente benut egter steeds vyf ton hiervoor,” sê die vereniging.