In die woorde van ’n moedelose boer

Elvira Hattingh
Johan Pieterse van die plaas Hillenhof by Otjiwarongo skryf: “Ek is nog een van Otjiwarongo se boere wat probeer om my plig as landbouer na te kom, naamlik voedselproduksie. Kos vir die land en sy mense. Ek faal egter liederlik daarmee, want sien, ek is ook een van die slagoffers van die Namibiese demokrasie waar elkeen ’n reg het om uit te leef en te maak en doen soos hulle wil.
Ek het in die nagtelike ure van 10 Augustus weer ’n ongevraagde plaasbesoek gehad van vier verdagtes en, danksy my wakker wagte, slegs drie skape verloor. Op 23 Augustus was ons egter minder gelukkig. (Of gelukkig?) Ons het skielik ’n aandeel gekry (glo of hoop ek) in die komende naweek se feestelikheid op Otjiwarongo! Vier lekker vet beeste het deel daarvan geword. Of hulle swaar dragtig was, speel geen rol nie, nee, daar sal lekker vet beeste wees.
Ek is moedeloos! Ons boer lankal nie meer nie. Ons is daagliks besig met polisiëring. Die Namibiese regering met al sy magte beskerm nie vir my of my eiendom nie, nog minder my familie. Ek moet dit self doen.
Daarom is ’n Otavi-boer onlangs vir moord in hegtenis geneem.
Dankie aan Otjiwarongo se eenheid vir veediefstal vir jul spoedige ondersteuning. Die saak is ondersoek, daar is ’n dossier en die saak is afgehandel. En ek sit met die verlies.” – [email protected]