Jeug leer weer om beeste te beoordeel

Francoise Steynberg
Die gesogte Bank Windhoek/Feedmaster Jeug- Beesbeoordelingskompetisie vind weer vanjaar plaas met leerlinge tussen graad 9 en 12 wat met hul vaardighede kan spog.
Die kompetisie skop vandeesweek af op die plaas Schwartrand Noord by Mariental. Woensdag word leerlinge op die Sachsenwald by Witvlei in die Gobabis-distrik touwys gemaak om Brahmane te beoordeel en Donderdag op die plaas Lichtenstein-West in die Windhoek-distrik. Leerlinge van Outjo en Otjiwarongo kom op 15 Augustus aan die beurt op die plaas Petersburg in die Outjo-distrik.
Plekke is beperk en slegs 20 leerlinge kan per dag geakkommodeer word.
Bank Windhoek en Feedmaster span jaarliks saam om ’n nasionale beesbeoordelaarskursus en -kompetisie vir Namibiese jongmense aan te bied.
Verlede jaar is Chané Janse van Vuuren, Sienta-Mari van Rooyen en Benjamin Mostert van die Privaatskool Moria op Outjo as die topdrie-beoordelaars in Windhoek aangewys.
Die doel is om leerlinge van graad 9 tot 12 met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om beeste op plase en skoue te beoordeel.
Die wenners word op 30 September uit die 21 finaliste by die Windhoek Skou aangewys.
Inskrywingsvorms is beskikbaar by https://forms.gle/dkr9f7uXU31dCpmu6
Vir verdere navrae, kontak die tegniese adviseur van Feedmaster, Christo van Zyl by 081 147 4199.
[email protected]