Kan wild aan hommeltuie gewoond raak?

Studie by N/a'an ku sê uitgevoer
Die resultate dui daarop dat wilde diere meer geneig is om te reageer na gelang van hoe hoog daar bo-oor hulle gevlieg word.
Elvira Hattingh
Wildsoorte soos byvoorbeeld gemsbokke, koedoes, springbokke en hartebeeste kan klaarblyklik vinnig gewoond raak aan die teenwoordigheid van hommeltuie.
Terselfdertyd blyk dit dat hulle minder geneig is om te skrik of te reageer op hommeltuie solank dit hoër as 50 m bo hulle vlieg en nie harder as 50 dB meet nie.
Dit volgens ’n onlangse studie getiteld “Ungulate responses and habituation to unmanned aerial vehicles in Africa’s savannah” wat op 25 Julie aanlyn in die wetenskaplike joernaal Plos One gepubliseer is.
Die studie is by N/a'an ku sê net buite Windhoek uitgevoer en onder die navorsers was die wildbewaringsgebied se eienaars, dr. Rudie en Marlice van Vuuren, asook nog vyf ander.
Volgens die eweknie-geëvalueerde navorsingsartikel is die kans dat diere sal skrik vir ’n hommeltuig wat hoër as 50 m vlieg en sag genoeg is, minder as 6% - ongeag of die hommeltuig dan ook vir die eerste keer oor die diere vlieg.
Proefnemings is op vrylopende, wilde diere gedoen, wat ook kameelperde en impalas ingesluit het. Vir die studie is 76 vlugte ontleed waartydens daar 346 keer bo-oor wilde diere gevlieg is. Die hommeltuie is teen hoogtes van tussen 15 m en 55 m oorgevlieg.
GEWOOND
Die resultate toon dat diere meer geneig is om te reageer na gelang van hoe hoog daar oor hulle gevlieg word, het die navorsers gesê. Hoe hoër die tuie gevlieg het, hoe minder geneig was die wild om daarvoor te skrik.
Daarbenewens is bevind dat wilde diere vinnig gewoond raak aan hommeltuie.
“Die resultate toon hoe langer die hommeltuig in die wilde diere se teenwoordigheid was, hoe minder geneig was hulle om daarvoor te skrik.
“Sommige spesies was meer geneig om daarop te reageer as ander, terwyl hulle ook verskillend gereageer het in gevalle waar die troppe net uit een spesie of ’n samestelling van spesies bestaan het,” het die navorsers gesê.
Nadat daar sowat 4,5 keer teen ’n hoogte van 55 m bo-oor wilde diere gevlieg is, het diere se geneigdheid om waaksaam te raak van 46% na 10% gedaal, terwyl die kanse dat hulle sou weghardloop van 6% tot 1% geval het. Dit verteenwoordig ’n vermindering van 80% in die kans dat hulle van die hommeltuig sou probeer wegkom, het die navorsers bevind.
GEMENGDE KUDDES
Die navorsers sê sebras, byvoorbeeld, was minder geneig om op hommeltuie te reageer in gemengde kuddes waar gemsbokke teenwoordig was. Dit stel voor dat sommige spesies op ander spesies en hul reaksie op bedreigings of hul fiksheidsvlakke sal reageer.
Verskillende soorte hommeltuie is ook ingespan en daar is bevind dat sommige soorte meer geneig was om wild te laat skrik as ander.
“Dit dui daarop dat verskeie faktore ’n rol kan speel in of wild daarvoor skrik of nie. ’n Hommeltuig wat ’n harder geluid maak, mag veroorsaak dat wild meer geneig is om op hul hoede te wees, terwyl ’n hommeltuig wat nader aan hulle kom, weer kan veroorsaak dat hulle wegbeweeg,” luidens die artikel.
Die navorsers meen dit is nie duidelik wat presies die grootste bydraende faktor is in of wild vir hommeltuie sal skrik of nie, maar dat klank (die intensiteit en frekwensie), die grootte en vliegmetode waarskynlik ’n rol speel.
- [email protected]