Kleinskaalse boere kan baat by pluimvee
Ekonomiese groei, werkskepping
Pluimveevleisproduksie word as meer doeltreffend beskou en vereis minder hulpbronne, wat dit 'n meer volhoubare opsie maak.
Die Namibiese pluimveebedryf hou aansienlike potensiaal vir ekonomiese groei en werkskepping in, veral vir kleinskaalse boere. “Om hierdie potensiaal ten volle te benut, is ’n robuuste regulatoriese raamwerk, soos die Wet op Lewendehawe en Lewendehaweprodukte, deurslaggewend vir die sektor se ontwikkeling en die ontsluiting van ekonomiese voordele en om die strukturele uitdagings binne die waardeketting deur doelgerigte ingrypings te takel,” sê die Pluimveeprodusentevereniging van Namibië (PPA).
“Deur deeglike gapingsontledings uit te voer en samewerking tussen produsente en belanghebbendes aan te moedig, kan ons die weg baan vir ’n florerende pluimveebedryf wat beduidend tot ons nasie se welvaart bydra.”
Pluimveeboerdery het ’n lang geskiedenis en speel ’n deurslaggewende rol in die internasionale voedselbedryf. Dit is een van die toonaangewendste sektore wêreldwyd vanweë die belangrikheid daarvan vir voedselsekerheid en die rol in die internasionale markte.
Die gewildheid van hoender is gebaseer op die goeie voer-tot-vleisverhouding en pluimveevleisproduksie word as meer doeltreffend beskou en vereis minder hulpbronne, wat dit ’n meer volhoubare opsie maak.
“Dit is noodsaaklik vir Afrika en spesifiek Namibië, aangesien dit die bevolking voed, inkomste genereer en tot werkskepping bydra,” sê die PPA.
BERAAMDE PRODUKSIEWAARDE
Die groeiende vraag na bekostigbare proteïen dryf die pluimveebedryf aan. Die verhouding van totale pluimveevleisproduksie wat op die internasionale mark verhandel is, het tussen die jare 2000 en 2020 verdubbel.
Die wêreldwye pluimveemark het teen ’n jaarlikse koers van 7,6% gegroei, van US$352,02 miljard in 2022 tot US$378,84 miljard in 2023.
“As gevolg van voëlgriep-uitbrekings oraloor die wêreld, het die bedryf ’n swak tweede helfte van 2023 beleef; daar word egter verwag dat verkope in 2024 met 1,5% tot 2% sal herstel,” sê die PPA.
Hoewel dit ’n opkomende sektor is, is daar aansienlike groei, volgens die PPA.
• Vleis het tussen 2017 (21 325 ton) en 2023 (33 890) met 59% toegeneem.
• Die eiersektor het van 2017 (89,4 miljoen) tot 2023 (132 miljoen) met 48% gegroei.
VERBRUIK
“Pluimveeverbruik het die afgelope paar jaar teen ’n gemiddelde koers van 3,19% gegroei. Van 2009 tot 2019 het dit van 94 miljoen ton tot 131 miljoen ton toegeneem, met ’n verdere styging van 4,1% tussen 2021 en 2025 in lande soos die Verenigde State van Amerika, Brasilië en China. Gedurende 2021 was die gemiddelde globale pluimveeverbruik per persoon 17 kg.”
Asië staan volgens die PPA uit as een van die belangrikste invoerders vanweë sy hoë binnelandse vraag, met China wat een van die grootste verbruikers van pluimveeprodukte ter wêreld is. Ander topinvoerders sluit Japan, Mexiko en die Verenigde Koninkryk in.
Volgens die PPA beloop Namibiese verbruik van pluimvee 18 kg per persoon per jaar, wat ’n gemiddelde syfer van 4 500 ton per maand beteken.
“Namibië produseer tans sowat 2 700 ton per maand, wat ’n tekort van ongeveer 1 800 ton beteken. Doeanerekords toon dat meer as 2 000 ton pluimvee en pluimveeprodukte elke maand na Namibië ingevoer word,” sê die PPA.
EKONOMIESE BYDRAE
Die plaaslike pluimveesektor het ’n beraamde N$1,2 miljard gedurende 2021 tot die Namibiese ekonomie bygedra, volgens die PPA.
Die sosiale rekeningkundige matriks (SAM) vir vleisverwerking is 4,42, wat aandui dat elke N$1 wat in die pluimveeproduksie- en -verwerkingwaardeketting bestee word, N$4,42 in die bruto binnelandse produk (BBP) by die ekonomie voeg.
Die Namibiese pluimveebedryf het meer as 2 500 mense in diens met sowat 10 000 afhanklikes. Klein- en medium-sakeondernemings (SME’s) dra na raming meer as 111 werksgeleenthede by.
Die totale gewig van ’n lewende hoender bestaan uit ongeveer 45% borsvleis, 26% dye, 15% boudjies en 11,5% vlerke.
“Wanneer ’n boer hoenders vir vlerke grootmaak, produseer hulle onvermydelik ook heel hoenders, wat vlerkproduksiekoste beïnvloed. Die markaanvraag verskil egter tussen hoenderporsies. As vlerke in
aanvraag is, wat gebeur met die oorblywende 88,5%? “Sommige markte verkies weer premiumsnitte soos borsvleis, wat ander snitte minder wenslik laat. Hierdie wanbalans kan lei tot “storting”, ’n teenmededingende handelspraktyk, wat die internasionale mark verwring.”
GELEENTHEDE VIR SME's
Kleinhandelaars eis gewoonlik groot volumes en het streng produkvereistes, volgens die PPA.
’n Tipiese Namibiese kitskos-kettingwinkel benodig 100 ton pluimvee per maand. (Teen 1,7 kg per hoender benodig hulle 58 800 geslagte hoenders per maand.)
SME’s kan baat by die vorming van koöperasies, die benutting van skaalvoordele om
oorhoofse koste op insette en dienste (soos voer, entstowwe en finansies) te verminder, risiko’s soos belegging en krediet te deel en inkomste te verhoog deur direkte marktoegang te verkry.
“Die PPA poog om die belange van al die pluimveeprodusente in Namibië te bevorder. Die vraag van stedelike verbruikers na plaaslike vleis neem toe, maar Namibië voer steeds pluimveeprodukte in – dit skep geleenthede vir kleiner entrepreneurs.”
Daar is egter ’n paar uitdagings:
• Probleme met die vestiging van ’n lewensvatbare bemarkingstelsel as gevolg van beperkte
produksie,
• Plase of produksieterreine is afgeleë,
• Swak vervoerinfrastruktuur,
• Probleme met die opstel van verkoelde voorsieningskettings. – francoise@nmh-hub,com.na